Thursday 27 May 2010

Sjoe! Wat 'n week!

Goeie genugtig. Ek kom nou net by die huis van my kantoor af. Dis byna 'n halfuur na middernag. Die derde jaar studente van ons departement, die divisie van Engelse studies, het vanaand 'n verhoog opvoering gelewer -- "The Wizard of Oz." Ek moes die openingsgebed lewer. Dit het om sewe begin. Na die vertoning is ek terug na my kantoor, dit was seker so teen half tien, om verder vir more se klasse voor te berei. Op 'n Vrydagoggend om nege uur gee ek "Research Methodology." Hiervoor moet ek notas voorberei. Ek het darem daarmee klaar gekry, maar moet nog die fotostate maak vir byna 90 studente. Ek dink ek gaan more oggend se fakulteitsvergadering moet misloop om die fotostate betyds te kan maak. (My assistent wat gewoonlik help met fotostate maak was een van die hoofkarakters -- die lafhartige leeu -- in die toneelstuk, en kon my geen hulp bied hierdie week nie. Sy kom ook nie more in nie.) Ek is gretig dat hierdie semester tot 'n einde moet, veral omrede hierdie "Research Methodology"-klas. Dit is uitputtend en onnodige baie werk vir 'n een krediet klas. Gelukkig is dit die laaste jaar wat hierdie klas aangebied word. Vanaf volgende jaar gaan ons die vaardighede wat die studente in hierdie klas moet leer in ander vakke integreer.

Ek was veronderstel om nog 'n woordeskat toets vir die "Vocabulary & Collocations"-klas te maak, maar as ek langer gaan wakker bly gaan ek 'n zombie wees. My studente sal maar net more die klastoets moet vryspring. Ek hoop dis vir hulle goeie nuus. (Ek is seker dit sal goeie nuus vir die lui studente wees, maar is nie so seker oor die flukse studente wat die moeite gedoen het om voor te berei vir die toets nie.)

Buiten die twee klasse is daar twee ander klasse wat ek ook nog more aanbied, "British & American Essays" en "Shakespear Films." Gelukkig het ek vanmiddag reeds kans gehad om vir hierdie klasse voor te berei.

Maar dis nie al nie, more is daar ook nog administrasie wat gedoen moet word rakende twee vakke wat ek en 'n ander dosent gaan ruil. Ek gee twee skryfvaardigheidsklasse volgende semester en die ander student geen twee uitspraakklasse ("pronunciation"). Ek sal verkies om nie twee skryfklasse aan te bied nie omdat dit soveel merkwerk vereis, en die ander dosent wil nie graag twee spraakklasse gee nie, so nou probeer ons om een van ons klasse te ruil.

Maar wag, my dag more is nie verby eens ek klaar is met al die klasse om drie uur nie. Ek het more middag ook 'n Hapkido toets om vyfuur.

Ek kan nie wag vir more aand om sewe uur wanneer al my verpligtinge en die week se gejaag op 'n einde is nie, en ek die Sabbat kan binne gaan en rus nie.

No comments: