Monday 31 May 2010

Gedig


Op persketakke lê soos watte die voorvrugte.
Só, op my hart blom my liefde – onverdun.

My beminde, hou nie jou rooi hart gegrendel nie:
die hart is ’n papie wat eens nog moet vlerke kry,
wat oop moet maak soos biddende hande na gebed,
soos ’n lotus voor die son, soos twee pare lippe
vir mekaar, soos bene vir bekende heupe,
soos vriende se kaalpersoonlikhede.

Want in die laat winter bot die perskes
en deur die koue groei die liefde soos tienerborste.

My beminde, hou nie jou soet mond toe nie:
laat my tong soos ’n vinger jou snare stram,
jou perkussie plekke kielie, jou diep liefdesgrotte
maak eggo soos roepende katedraalklokke,
wat luidkeels ween oor die hoog gestookte liefde
en jou brandstapel waarop ek hartstogtelik verteer.

Hoogsomer dra die perskebome swaar aan vrugte
en loop die harte oor van bloed en liefde.

My beminde, vergeet nie die ou verhale nie:
van Adam (óf Romeo) wat deel aan die giftige perskes
en deel aan die lot, want die liefde se drif vrees nie
die dood nie, dit loop doelgerig die duisternis in –
braaf soos Christus, wánt, my beminde,
die slot van die dood bind nie die liefde nie.

No comments: