Saturday 15 May 2010

Koreaans

Aangesien my kontrak hernu gaan word en ek vir ’n verdere twee jaar in Korea gaan aan bly (indien dit God se wil is) het ek besluit dat ek pertinent aandag moet gee aan die aanleer van die Koreaanse taal. Ek ken genoeg Koreaans om relatief gemaklik oor die weg te kom. Ek kan dinge bestel by restaurante, taxi-bestuurders aanwysings gee, en die assistente in die boekwinkels vra om my te help as ek opsoek is na ’n spesifieke titel. In gesprekke met Koreane kan ek met verbasende gereeldheid, met my 10% luisterbegrip en uit die konteks, aflei waaroor gepraat word. Die probleem is egter dat ek myself nie regtig kan uitdruk met enige ware gemak nie. En terwyl ek sowat 10% verstaan en dit my instaat stel om te oorleef met my woordeboek in my hand, is dit steeds nie genoeg nie. Ek is steeds gestrem. Ek sou baie graag Koreaans formeel wou leer maar my werksure laat dit nie toe nie en my aande is vol met krygskunsklasse sodat ek ook nie na-uurse Koreaanse klasse kan neem nie en ek is nie van plan om my krygskunsaktiwiteite af te skaal nie – dit was een van die redes hoekom ek terug gekom het Korea toe.

So wat is die oplossing? ’n Nuwe gedetermineerdheid om Koreaans te leer. As ek aan bly in Korea wil ek regtig my self meer verdiep in die kultuur. Ek weet dit sal altyd onmoontlik wees om “een van hulle” te word. Die blote feit dat ek anders lyk sal altyd van my ’n uitlander maak, ongeag my vlotheid aan die taal. Nietemin, ek wil ten minste ’n basiese gesprek kan voer voordat my lewe in Korea tot ’n einde kom.


Ek het daarom besluit dat ek Hollym se “Alive Korean Language Series” gaan aanskaf. Dis ’n reeks van vier boeke wat die vier taalvaardighede dek: gesprek, luister, skryf, en lees. Dalk kan ek hierdie naweek nog by ’n goeie boekwinkel uitkom en sien of ek hierdie boeke in die hande kan kry. Ek het verskye ander boeke omtrent Koreaans, maar hulle is almal “survival Korean” tipe “phrase books.” Wat ek kort is iets meer gestruktureerd.

Ek het ook besluit dat ek ’n lys van die mees algemene werkwoordfrases moet kry. Koreaans spil rondom die werkwoord. Dit is die belangrikste deel van ’n sin. Koreaanse sinne is gereeld sonder ’n subjek. Partykeer selfs sonder ’n objek. Maar nooit sonder ’n werkwoord nie. ’n Frase soos 합니다 (“doen”) is ’n volledige sin in Koreaans. Ek is oortuig dat indien ek meer werkwoorde en hulle verbuigings ken, selfekspressie in die taal baie makliker sal wees.

No comments: