Monday 10 May 2010

'n Tawwe kiem

Ek is siek.

Ek kla nie maklik oor siek wees nie. Wat ek bedoel is, ek mag dit dalk noem, maar is nie geneig om daaroor te neul en te kerm en aandag te soek nie. Op 'n baie vroeë ouderdom het my ma my geleer om na myself om te sien. As daar iets fout met my was het sy my verwys na die medisynetassie sodat ek vir myself 'n pil kon uithaal en dan gaan jy maar aan met jou lewe. Selde is ek gepamperlang as ek siek was. (Daar was 'n stadium toe ek 'n baba was, kort na my geboorte, wat ek baie siek was en my ouers in die hospitaal by my gewaak het, maar daarvan het ek geen herinnering nie. En die keer toe die reuse televisie op my geval het en 'n gat in my kop gekleef het; daarvan onthou ek ook niks nie.) Ek onthou seker een of twee kere waar my ma my werklik "vertroos en vertroetel" het terwyl ek siek was. Een keer was toe ek vir 'n operasie gegaan het om my mangels te verwyder. 'n Ander keer was toe ek voedselvergiftiging gehad het. Maar vir die gewonde kinder dinge: snye, skrape, en ander dinge wat plaaskinders betref moes ek maar self die wonde afwas en plysters plak. Oor die algemeen, vir algemene pyne en kwale wat kinders oorkom het my ouers my nie onnodig opgepiep nie. Ek het dus nooit aangeleer om aandag te soek deur siek te wees nie. (Dit is mos die stereotiep dat mans hulpelose babas is wat die heeltyd aandag en pamperlang moet word wanneer hulle siek is.)

So wanneer ek meedeel dat ek siek is, dan moet dit my nou al genoegsaam geirriteer het dat ek dit enigsins nodig vind om dit by die naam te noem.

Ek drink nou al daagliks duisende milligramme Vitamien C, gorrel my keel met lou soutwater, smeer bloekbalm op my bors en keel, drink liters water, maar dit blyk dat my verkoue wat sowat twee weke gelede begin het nou net erger word. My keel raak seerder en my hoeserigheid vererger. Gisteraand het die hoes my uit die slaap gehou. Die kuggie is konstant en frustrerend. My stem klink effens rou -- gelukkig nie hees nie. (Want hoe sou ek my werk kon doen met 'n heesstem?)

Ek het selfs Donderdag apteek toe gegaan en iets gaan optel. Die apteker het 'n reeks pille gegee wat ek in drie dae moes voltooi.  Saterdagaand het ek die laaste pil gesluk. Geen verbetering nie.

Ek verstaan dit nie. Hoekom het hierdie kiem die oorhand? Is ek oorwerk?

Ek het besluit om vir middagete na 'n spesiale restaurant te gaan waar hulle 'n dik ginsengsop maak. Hierdie tipe sop word "jook" genoem in Koreaans.

Dalk help dit. Daar naby is ook 'n groot supermark waar ek suurlemoene kan koop en varsgemmer. Ek het heuning. Suurlemoen, gemmer en heuning maak 'n goeie hoesstroop. Ek het ook bloekomolie waarvan ek 'n paar druppels in die mengsel sal gooi om die lugweg te streel.

Maar ek het soveel werk om te doen. Dalk kan ek van my merkwerk saam neem en in die restaurant sit en merk.

1 comment:

Skryfblok said...

Sjoe, ek weet nie waar ek in Korea mirre in die hande kan kry nie.

Jy's reg oor die oorwerk. Ek het te veel balle in die lug; te veel projekte; en 'n te nuuskurige brein wat nooit wil afskakel nie.