Wednesday 19 May 2010

Pasop wat jy sê

Gisteraand gesels ek en my Taekwon-Do afrigter en die gesprek maak toe skielik ’n interesante draai. My afrigter waarsku my dat dit alweer verkiesingstyd is in Korea en met die huidige administrasie in plek moet ’n mens versigtig wees wat jy sê. Of meer spesifiek, moet “ek” versigtig wees. Die rede is omdat ek ’n hoë rang in ITF Taekwon-Do het. ITF Taekwon-Do word ook in Noord-Korea gedoen en die huidige regering het ’n aggresiewe houding teenoor Noord-Korea. Heksejagtery gebeur glo tydens hierdie tye wat aanloop na die stembus. Ek dink dit is heel belaglik omdat ek niks met Noord-Korea te maak het nie en is pertinent gekant teen die Noord-Koreaanse diktatorale regering.

Vanoggend toe lees ek ’n skrywe op die bekende Roboseyo-blog. (Roboseyo is een van die vooraanstaande blogs deur ’n uitlander in Korea.) Die skrywe handel oor vryheid van spraak in Korea. Soms vergeet ek dat Korea nog ernstige vryheid van spraak probleme het.

My afrigter is natuurlik reg in sy aanmatiging dat ek versigtig moet wees. Ek het ’n hoë aanlyn profiel as ’n skrywer van krygskunsverwante onderwerpe, en in besonder oor ITF Taekwon-Do. Verder is dit welbekend dat ek in Suid-Korea woonagtig is. Wie weet watse inligtiging daar omtrent my deur diverse groepe bymekaar gemaak word? Om hierdie rede vermy ek gewoonlik politieke en erg opinie gelaaide skrywes. Veral op hierdie blog. My onlangse skrywe was ’n uitsondering en was dalk ’n slegte skuif gewees.

Vir wat dit (in Afrikaans) werd is, ek is nie ’n spioen vir ’n kommunistiese agentskap nie. Maar indien ek was sou ek dit ook seker ontken het, sou ek nie? ’n Onskuldige verdenkinge kan net nie wen nie . . . 

2 comments:

Franco said...

Ek het altyd geweet daar is iets snaaks aan jou, nou weet ek!

Diep binne is jy 'n kommunis ne?? ;)

Skryfblok said...

Kommunisme, as 'n abstrakte idee, klink baie mooi. Ongelukkig neem dit nie die inherente sondige / selfsugtige natuur van die mens in ag nie. Verder verban dit die enigste oplossing om die sondige / selfsugtige probleem te oorkom, naamlik God. Nee, ek's nie 'n Kommunis nie, eerder 'n tipe Christen-Anarchis.