Showing posts with label death. Show all posts
Showing posts with label death. Show all posts

Monday, 13 January 2014

Om 'n "ma" te verloor

Om 'n ma te verloor is nie maklik nie. Dit is nietemin deel van die natuurlike gang van ons gebroke wêreld. Om 'n ouer te verloor is vir 'n kind soos om 'n god te verloor. 'n Kind se hele wese, se heel gevoel van bestaansreg draai om hulle ouers, wat aan al hulle basiese behoeftes voldoen.

Ek het hieroor 'n gedig geskryf verlede jaar. In die gedig spreek die verteller die Dood aan, en bekla die feit dat moeders sterf sodat kinders kan "onderskei / tussen God en mens / tussen Hom en klei".


Ek het ook op 'n tyd 'n moeder gehad

ek het ook
op 'n tyd   
lank gelede
toe wolke nog diere en skepe was
'n moeder gehad

'n ma

'n mamma

wat soos 'n god
my lank lank gelede
gesoog en versorg en verknog het
wat in my die potensiaal gesien het
wat slegs God en moeders kan sien
wat die eerste vrou in my lewe was
die templaat vir al wat vrou is
van Eva tot nou is

ek het ook op 'n tyd 'n moeder gehad

en soos alle moeders het sy ook
onder jou koue lem beland
jou rypvingers het haar om die keel gegryp
en God het staan en toekyk
want dis die lot van alle moeders
dat hulle kinders kan onderskei
tussen God en mens
tussen Hom en klei

op 'n tyd het ek ook 'n God gehad
soos 'n moeder


My mooi ma
My ma was vir jare lank siek gewees en toe sy uiteindelik sterf was dit nie 'n skok nie. In 'n sekere opsig was dit 'n verligting. 'n Verligting dat haar leiding tot 'n einde gekom het. Die laaste keer wat ek my ma gesien het, het sy feitlik niks van haar vorige glorie oor gehad nie. Sy was eens 'n dinamiese, selfversekerde, sterk, pragtige vrou. Maar op haar sterfbed het sy in 'n patetiese bondeldjie verander -- 'n kindjie, sonder 'n moeder om haar te vertroos. Dit is vir my moeilik om terug te dink aan my moeder en nie gelyktydig terug te dink nie aan haar geweldige verval van die koningin wat sy op tyd was, tot daardie bewende prewelde bondeltjie op 'n bedjie in 'n tehuis vir elendiges.

Sedert my ma se afsterwe is ek geseënd met ander "moeders" wat my onder hulle vlerke geneem het. Een van hulle het ook onlangs gesterf na 'n tyd van siekte.

Ek het die volgende op Facebook met my bloedfamilie en hartfamilie (hegte vriende) gedeel:

Tannie Jenny en ek
'n “Ma” en dierbare vriendin van my, Tannie Jenny Streaton, is die middag voor Oukersaand (24 Desember 2013) oorlede nadat sy vir 'n paar jaar reeds met kanker gewroeg het. Alhoewel sy uiteindelik aan die siekte omgekom het, het sy as 'n vegter, 'n heldin in my gemoed, gesterf. Sy was 'n besonderse mens gewees vir wie ek baie lief is en wie baie lief vir my was—en my lewe is ryker daarom. Sy het my moed ingepraat (“pet talks” soos sy dit genoem het) wanneer ek mismoedig was, en sy het selfs op 'n groot mate finansiëel bygedra to my meestersgraad. Ek weet nie of ek my meestersgraad sou kon voltooi het sonder haar liefde en bystand nie, en ek twyfel of ek sou wees waar ek vandag is (besig met 'n doktorsgraad) was dit nie vir haar en die Streaton-familie wat my “aangeneem” het nie. Hulle het my op soveel direkte en indirekte maniere gehelp, dat dit te lank sal neem om hier te hervertel. Sowat drie jaar gelede het ek en Tannie Jenny lank gekuier en het ons kans gehad om formeel totsiens te sê. Iets wat sy geïnisieer het. Ons het diep gesels oor die dood, en hoe sy daaroor voel. Sy het prontuit en eerlik met my haar gevoelens gedeel—insluitende dat sy vrede het met die feit dat sy sou sterf. Sy het ook met my van haar bekommernisse gedeel en dit is 'n voorreg vir my dat ek na haar kon luister. Ek weet die dinge wat sy op haar hart gedra het, en koester dit, en sy het geweet die liefde wat ek vir haar, vir Oom Mike en haar kinders, Margie en Michael het. Sy het vir my gesê dat sy my lief het en dat ek vir haar soos 'n eie seun is. Twee jaar gelede het ek haar weer gesien en ons was bly dat ons nog so 'n geleentheid gegun is. En onlangs, enkele weke voor haar dood kon ek darem 'n kort rukkie met haar op die foon gesels en kon ek vir haar sê dat ek lief vir haar is en ander dinge wat ons gedeel het. Ek is jammer dat ek haar nie weer kon sien voor sy gesterf het nie, maar daar is niks ongesê tussen ons nie. Die wêreld was 'n beter plek met haar in dit—en sy het op haar eie, nederige manier mense se lewens aangeraak. Sy is 'n fundamentele pilaar in die konstruksie van my lewe. Dankie Tannie Jenny. As ek, 'n “aangenome seun” so aangeraak kon wees in die bietjie meer as 'n dekade wat ek haar geken het, kan ek my skaars indink hoe pynlik die verlies vir haar familie moet wees. My innige meegevoel vir julle verlies. Ek weet daar is nie woorde nie, en wil maar net dankie sê dat julle my altyd tuis laat voel het.

Baie liefde,

S

Sunday, 1 July 2012

Oom Andre, my “pa”, is dood.



Oom Andre, my “pa”, is dood. Hy het gisteroggend gesterf nadat hy vir 'n klomp maande aan kanker gelei het. Die laaste drie weke was hy veral in pyn en sy liggaam ongenadiglik afgetakel tot vel en been, so sy uiteindelik sterfte kom as 'n verligting. Maar o!, die wêreld is 'n armer plek sonder hierdie man. Ek het gehoop dat ek hom weer kan sien voordat hy sterf, sodat ek vir hom kon dankie sê vir die geweldige besonderse invloed wat hy op my lewe gehad het.

Gisteraand toe ek by die huiskom lees ek my e-posse en sien dat my X vir my 'n boodskap gestuur het. Oom Andre was haar oupa, maar omdat haar ouers geskei was, was dit juis haar oupa wat grootliks ingestaan het wat vaderlike verpligtinge betref. In haar brief skryf sy “Hy was my Pa!! . . . troostelose winter koue sny my siel en ek bloei, ek bloei – trane sny my siel – weg is Oupa . . .” In 'n opvolg e-pos voeg sy by: “sterkte – ek weet jyt hom soos 'n pa liefgehad, jammer man”. Toe ek dit lees, bars ek onbeheurd uit in brullende snikke.

Niemand, behalwe miskien X, weet watse groot invloed Oom Andre op my lewe gehad het nie. Hy is die persoon wie ek altyd wou hê as pa. Ek bedoel geen disrespek aan my eie pa nie, maar ek is oortuig dat ek 'n beter mens sou gewees het indien ek onder die faandel van Oom Andre groot geword het. Daar is 'n paar redes hiervoor, maar een pertinente een is dat Oom Andre was 'n kunstenaar. My eie pa het niks kunssinnigs in hom nie. Hoe kan 'n man soos hy, wat nie eens van musiek hou nie, 'n artistieke kind soos ek lei tot manwees. Daar was 'n tyd wat ek my pa baie kwalik geneem het vir sy ontrekking van my, maar ek het intussen effense simpatie met hom. My pa het eenvoudig nie die bevoegdheid gehad om 'n kreatief-sensitiewe seun tou wys te maak nie. En vir jare het ek groot geword sonder enige rolmodel, sonder enige voorbeeld van hoe 'n man 'n kunstenaar kan wees, maar steeds 'n man kan wees. Ek het my hele grootword alleen gevoel. 'n Buitestander in wat dit is om 'n man te wees. En toe, in my twintigs ontmoet ek oom Andre, hierdie weermagsoffisier, 'n vegvlieënier, wie se eie pa eens 'n weermagsgeneraal was. Oom Andre was die epitoom van manwees. Maar hy het sy graad verwerf in die fynere kunste, as skilder, en kon in homself die harde vegtersgees van 'n soldaat, en die sagte sensitiewe gees van 'n kunstenaar verweef tot 'n persoon na wie ek kon opkyk en uiteindelik uitroep: Daar! Daar is 'n voorbeeld vir my. 'n Man na my hart!



In sy 60s het Oom Andre in sy CD-versameling geluister na Mahler, Bach en Brahms, maar ook na Alanis Morissette, en Sheryl Crow, en Madonna. In sy studeer kamer het fotos van hierdie kontemporêre musieksterre gepryk langs fotos van vegvliegtuie, potrette van ou geliefdes, and tekste uit Hebreërs. En dit was hierdie Oom wat so paradoksaal die ou en die nuwe bymekaar kon bring, wat die harde en sagte in 'n yin-yang kon balanseer, wat my geleer het wat 'n regte Christen is: wat my gewys het—op soveel kere wat ek moed wou opgee met die Christen religie—dat daar wel so iets is woos 'n werklike Christen; wat my geleer het wat verlossing deur genade alleen, deur geloof alleen, in Jesus Christus alleen beteken.

Een van my grootste vrese terwyl ek hier in die buiteland leef is dat geliefdes soos Oom Andre en vir wie ek so lief is, sterf voordat ek nog kans gehad om meer tyd met hulle te kon spandeer. En nou voel ek dit—die werklikheid van daardie vrees, kou taai en morsig aan my siel soos teer.

Hoe vul 'n mens die leemte as jy jou geestelike vader sterf?! Hoe vul jy die leemte wanneer jou grootste rolmodel verdwyn?!

My pa is gister dood. Die wêreld is 'n armer plek sonder hom. Ek is 'n armer mens sonder hom.

Maar ek is 'n ryker mens omdat hy my toegelaat het om sy seun te word en ek is intens dankbaar dat God aan my Oom Andre en Tannie Lydia as geestelike ouers gegee het.