Image Source: Richard Oshen's Blog; Original artist unknown.
Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat ek oorwerk / oormoeg is—dat ek moontlik te hard oefen of te veel hooi op my vurk het. Of eerder, dat ek nie genoeg rus in kry om op te maak vir die druk van my werk, projekte en oefenregime nie. Ek het bewus geraak van ’n duidelike patroon. Sodra ek ’n gewigoptel-oefeningprogram by my gewone oefen program voeg, raak ek siek. Ek doen tans vier maal per week offisieel krygskunsoefeninge: Maandag is Hapkido, Dinsdag en Donderdag is Taekwon-Do, en Vrydagmiddag is Braziliaanse Jujitsu. En soms op die ander dae doen ek ook ’n bietjie ander aktiwiteite. Met hierdie stel oefeninge blyk ek instaat om die mas op te kom. Maar sodra ek begin om gewigopteloefeninge in te sluit—gewoonlik op ’n Sondag—raak ek siek. Dit het nou al met genoegsame repetisies gebeur dat ek die patroon kon indentifiseer. Blykbaar vereis die gewigoptelsessies baie meer hersteltyd, maw baie meer rustyd. Dis nou al drie weke ek ek is nog steeds nie klopdisselboom nie. Die hoesery is darem tot 'n einde, maar my keel is steeds seer.
My huidige sowat ses ure per nag is nie genoeg nie. Ek besef dat my liggaam eintlik nege ure verkies. Wanneer ek nie myself met ’n wekker opjaag nie, dan slaap ek gerieflik sowat nege uur, daarom dink ek dat my liggaam eerder nege ure as ses ure soek. Maar goeie genugtig, waar gaan ek nege ure in die hande kry? Party aande kom ek eers half-elf, elfuur by die huis en daar is geen manier wat ek onmiddelik in die bed kan spring nie. ’n Mens moet eers bietjie afwen. En selfs al kon ek onmiddelik in die bed klim gun dit my steeds nie nege ure se slaap nie – slegs agt ure. (Agt ure is natuurlik beter as die huidige ses ure; hoe ookal, dis nie tans moontlik om eens agture slaap te kry nie.)
Ek dink die oplossing (of ten minste die tydelike remedie) is om dagslapies te neem. Ek moet bieg dat ek knip nie graag uiltjies nie. Dis grootliks my pa se skuld wat ons kinders sleg gesê het as ons in die dag slaap. Ondanks ek al jare op my eie is (nie meer onder my ouers se invloed / dak leef nie), voel ek steeds skuldig as ek in die dag slaap. Nietemin, die siesta is tradisie in vele bevolkinge van die Mexikane tot die Grieke. Ek onthou toe ek in Griekeland was hoedat winkels helder oordag toe maak vir ’n paar ure se middagrus. Ek het ook bietjie opgelees omtrent “napping” en dis duidelik dat dit gesondheidswaarde het. Dagslapies was glo “critical” vir Lance Armstrong se suksesvolle fietsoorwinnings. Ek gaan maar eenvoudig net my skuldgevoelens onder die bed in moet skop en bietjie slaap in kry deur die dag. My werksprogram laat dit natuurlik nie elke dag toe nie, maar daar is party dae wat ek ’n uurtjie kan afknyp. Gelukkig is my woonstel slegs vyf minute se van my werk af, so my bed is gerieflik naby.
Intussen probeer ek baie hard om in die gewoonte te kom om teen middernag in die bed te wees. Ek hoef nie noodwendig te slaap nie, maar ek moet in die bed wees met die lig af. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan. Teen tien uur die aand kry ek my tweede asem. Dit is asof ’n helderheid my beet pak en ek met nuwe oemf kan begin werk aan iets. En dit is dan ook wat ek baie kere doen. Vele aande wanneer ek by die huis kom dan begin ek werk aan iets en voor ek my oë uitvee is dit twee ure later en lank na middernag. Die ideale job vir my sal eers tien uur of elf uur die oggend begin.
Intussen, die volgende twee doelwitte: 1. middagslapies; 2. in die bed teen middernag.
Nadat ek die bogaande geskryf het besef ek skielik dat hierdie geensins 'n unieke skrywe is nie. Ek het basies presies dieselfde geskryf verlede jaar September.
No comments:
Post a Comment