Daar is katmense en hondmense. Af en toe kry jy ’n draadsitter, maar gewoonlik is katmense en hondmense redelik eens oor hulle onderskeie troeteldiervoorkere. Alhoewel ek as kind ’n hele rits honde gehad het, is ek sonder twyfel ’n katmens. Dit het my baie lank geneem om my voorkeur vir katte bo honde te tem. Intussen het ek tot die insig gekom dat ek nie honde kan blameer omdat hulle nie katte is nie. ’n Hond is ’n hond en kan nie daarvoor help nie.
Alhoewel hondmense soms hulle eenstemmigheid omtrent honde kan vokaliseer, raak hondmens nie juis so opgewonde oor honde soos katmense oor katte word nie. Ja daar is daardie groepies hondmense wat hulle honde na hondeskoue en parades toe neem, maar daardie tipe hondmense is ’n subkultuur binne die groter sfeer van hondmense. Katmense, daarinteen, is altyd opgewonde oor hulle katte. Hulle ken mekaar ook gewoonlik uit. Dis iets in ons houding teenoor die wêreld wat maak dat een katmens ’n ander katmens kan identifiseer. Ek vermoed dit werk bietjie soos “gaydar” – daar die telepatiese radar wat gay mense het om mekaar uit te ken.
Katmense kan ’n helegesprek hê oor hulle kat. Hierdie katgesprekke is ook anders as hondmense se kompeterende gesprekke. Katmense sal bymekaar oor hulle katte gesels, en terwyl hulle hulle onderskeie katte met mekaar mag vergelyk is dit nooit ’n “My kat is beter as jou kat”-gesprek nie. Wanneer een persoon se kat iets wonderliks doen (wat ’n ander persoon se kat nie doen nie), sal albei persone opgewonde wees. Die eerste persoon is opgewonde oor haar eie kat so spesiaal is. Die tweede persoon is opgewonde oor die uniekheid en wonderlike aard van die katspesie in geheel. Alhoewel elke katmens se eie kat(te) ’n baie spesiale plek in sy of haar hart het, is katmense ook gaande oor ander mense se katte – selfs die irriterende katte, omdat die irriterende katte ook ’n ander unieke aspek in die katpersoonlikheidspektrum uitbeeld.
Sekerlik die aspek van ’n kat waarvan katmense die meeste hou is dat katte nie so afhanklik, en irriterend onvoorwaardelik lojaal en beslobberendlief vir sy eienaar is soos ’n hond nie. Dis asof ’n hond geen keuse het nie. Honde is pakdiere en die eienaar is deel van die groep en dus ’n onvoorwaardelike instinktiewe waaistertverwelkomende deel van die hond se eie psige. Die hond beskik byna nie oor die vermoeë om nie-lief te wees vir sy eienaar nie. Soos elkeen wat hierdie ding mooi deurdink het sal weet, is so ’n tipe liefde ’n laer tipe, elementêre liefde – nie werklik liefde nie, eerder instink ter wille van die trop. Dit is wanneer “liefde” ’n vrye keuse vereis, dat dit werklik Liefde, in die ware sin van die woord, word. ’n Kat vereis ’n verhouding – dis nie onvoorwaardelik tropinstink nie, maar ’n gedeelde keuse wat albei partye aangaan om mekaar se kat en mens te wees.
Met honde is die orde grootliks gebasseer om die mens: “Ek is die mens, en jy is my hond.” Hierop reaggeer die hond, “Jy is my Meester, en ek is jou hond.” Die hond kontempleer nie eers daarop nie. Aan die anderkant sal geen selfgerespekteerde kat sal so ’n repliek “instinktief” gee nie. In ’n kat-mensverhouding is daar nie ’n “meester” nie. Die verhouding is grootliks gelyk, met effense variasie in die rolle afhangende van die vereistes van sekere situasies. ’n Kat-mensverhouding is veel nader aan ’n boesemvriendverhouding, as ’n goedgesinde meester-slaafverhouding.
Onderaan ’n liedjie deur Jack Off Jill oor haar “kat.” Dalk nie haar regte kat nie – nietemin, ek kry die gevoel dat sy wel ’n regte kat het, en dat sy inderdaad ’n katmens is.
2 comments:
Ek is ook 'n katmens en ek vind jou opsomming in hierdie inskrywing baie raak! :)
"Sekerlik die aspek van ’n kat waarvan katmense die meeste hou is dat katte nie so afhanklik, en irriterend onvoorwaardelik lojaal en beslobberendlief vir sy eienaar is soos ’n hond nie."
Liewe BiB,
Met die lees van jou blog kan ek heeltemal insin dat jy 'n katmens is. Soos ek sê, katmense ken mekaar uit.
Ek vermoed dat jy gril ook vir die "beslobberendlief"-gedagte! Ek kry skoon hoendervleis as ek nou daaraan dink.
Post a Comment