Sunday 20 December 2009

Kinders is nie kinderspeletjies nie

Ek was tien toe my jonger broer gebore is. Hy was prematuur gebore – op ses maande. Glo het ’n engel my ma besoek om haar te waarsku dat die geboorte aangebreek het. Die kind was dood gebore. My ma het gebid en hy het begin lewe.

Na ’n maand of twee in die broeikas kon hy huistoe kom en van dag een af was ek betrokke met sy versorging. Aanvanklik was dit interesant. Ek was trots daarop dat ek sy bottels kon maak, dat ek die doeke kon vou, dat ek die werpseltjie kon versorg. Maar dit wat eens ’n nuutjie vir ’n kind was, het vinnig ’n te groot verantwoordelikheid geword.

Ons ma was 45 toe die nuweling gebore is; in die fleur van haar lewe en ’n suksesvolle besigheidsvrou met vyf besighede: drie pandjieswinkels, ’n videowinkel, en ’n haarsalon. Daarby, vernootskappe in ander besighede: ’n supermark, ’n kafee, ’n vrugtesapfabriek, en waarskynlik nog ander vingers in ander pasteie waarvan ek nie kennis gedra het nie. Die versorging van ’n babatjie het dus nie in haar roetine gepas nie – veral nie tydens besigheidsure nie. Terwyl ek by die skool was het die bediendes (ons het twee gehad, want ons kon dit bekostig), die laatlam versorg. Maar in die middag, kort nadat ek by die huisgekom het, was dit my verantwoordelikheid totdat die besigheidsvrou uiteindelik by die huis kom – sesuur, seweuur, agtuur – en die moedersrol kon oorneem.

Bottelsmaak, doekeruil, en sukkel met ’n skreeuende baba was lankal nie meer ’n nutigheid nie, maar ’n vreeslike straf. Wat weet ’n tienjarige kind van babas af wat tandesny? Ek onthou goed hoedat ek hom op meer as een geleentheid hoesmedisyne gevoer het om hom te verdoof tot slaap. Ek onthou hoe ek vele kere self in trane was, omdat ek hulpeloos was om die skreeuende baba stil te kry. Hoe ek op ’n keer die baba geruk het uit frustrasie. Dis onverantwoordelik van ouers om van ’n kind te verwag om na ’n ander kind om te sien. Hoe kan ’n kind ouer speel? Hoe kan ouers so kind-onnosil wees.

Die skade is onherroeplik. Ek hou nie van kinders nie. Ek is in my dertigs en het tot vandag toe nog geen behoefte om kinders van my eie te hê nie. Ek het geen illusies omtrent kinders grootmaak nie. Die meeste jongmense wat trou en kinders kry het nie ’n idee wat dit behels nie. Ek sien gedurig hoedat kinders (vroeë twintigs) kinders kry en al wat ek kan doen is om my kop te skud. Kinders is nie kinderspeletjies nie.

Sedert ek tien jaar oud was, moes ek gedeeeltelik die rol van ’n ouer vervul. Tien jaar later, twee dae voor my 21ste verjaarsdag en ’n maand voor sy 11de verjaarsdag, is my pa tydens ’n gewapende roof in die kop geskiet. ’n Paar maande later is my ma dood aan ’n reeks beroerte aanvalle. My rol as “ouer” het nog nooit gestop nie. Al het ek nie na my kleinboetie omgesien in sy fisiese behoeftes nie (’n ander broer het daardie las gedra), was sy emosionele behoeftes steeds my verantwoordelikheid. In my persoonlike opinie was dit ’n veel groter verantwoordelikheid as om na sy fisiese behoeftes om te sien – veral terwyl ek self emosioneel swaar getrek het, sonder pa of ma om na my fisiese en emosionele behoeftes om te sien.

Dis alweer tien jaar later. Ek is 31 – hy is 21. Stelselmatig raak die gaping kleiner en is ons besig om vriende te word, soos wat hy meer onafhanklik raak. Tog bly dit onvermydelik – ek’s steeds die “ouer” – al is dit net die ouer broer. Die skade is, moontlik, onherroeplik: Ek skram weg van enige emosionele afhanklikes, enige verdere ouerlike verantwoordelik. En ek begin vrede maak met die waarskynlikheid dat ek nooit sal trou en kinders hê nie.

Maar dalk sal hy eendag trou en kinders hê. En sal ek oom wees ... en oupa.

4 comments:

Anonymous said...

Kinders grootmaak is nie 'n grappie nie en dit is scary hoeveel "kinders" kinders kry! Ek weet ek is nog lank nie reg vir daai stap nie.

Skryfblok said...

Nou't ons al drie goed in gemeen: Korea, herfs, en die oortuiging dat te veel "'kinders' kinders kry!"

Anonymous said...

Sjoe! Hoe scary moes dit nie vir jou gewees het nie! Dis jammer dat jy so oor kinders voel. - en dit deur jou ma(ouers)...kinders is spesiaal en hulle verander 'n mens se lewensuitkyk totaal. As beide ouers hul kant bring, is kinders grootmaak nie so erg nie. Ek hoop iets gebeur om jou siening te verander.

Skryfblok said...

Ek twyfel nie dat kinders 'n mens se lewensuitkyk verander nie.

Verlede jaar was ek in verhouding. My X het 'n kleuterseuntjie en die verhouding was ernstig genoeg dat ek bereid was om in die vadersrol te tree. Ongelukkig het die verhouding nie uitgewerk nie. Nietemin, die ervaring het aan my getoon dat ek nie heeltemal teen die moontlikheid van kinders is nie. Never say never...

Indien ek wel eendag 'n geliefde kry wat by my pas (geensins 'n maklike proposisie nie!), en sy wil baie graag kinders hê, sal ek haar nie daarvan weerhou nie. Tog sal ek eerder 'n kind wil aanneem, as om een van my eie te hê.