Monday 21 December 2009

O wee, die Volkslied! en ander gedagtes omtrent Suid-Afrika

Ek weet ek is bietjie agter sover die mees resente kulturele gebeure in Suid-Afrika betref. Byvoorbeeld, ek het waarskynlik 'n paar maande gemis voordat ek vir die eerste keer Bok van Blerk se groot Afrikaner-treffer gehoor het. My geografiese afwesigheid, maar ook my effense apatie wat Suid-Afrikaanse popkultuur betref, maak dat ek baie dinge mis. Soms genadiglik...

Neem nou hierdie weergawe van die Volkslied deur Ras Dumisani. Ek is eerlik as ek sê ek hou van die nuwe Volkslied. Ek hou van die meertaligheid, van die integrasie van beide Afrika en Europeuse temas, van die fases in die lied. Maar goeie genugtig -- ek hou nie van Dumisani se verkragting van die lied nie.



Gepraat van mense wat ons land se naam deur die modder sleep; ek bly oor Julius Malema wat bietjie aan die bek geruk word. En dit nogals deur die Kommuniste Party! Wie sou dit kon voorspel? Malema wat deurgans sulke nasionalistiese / sosialistiese uitsprake maak, soos dat alle myne genasionaliseer moet word, word nou deur die Kommuniste Party gekritiseer vir sy aandadigheid. Kan jy nou meer!

En dan die afsterfte van ons voormalige gesondheidsminister laat 'n slegte smaak in die mond. Ek wil nie die spot dryf met die dode nie, maar ek kan nie help om 'n ironie in haar afsterfte te sien nie. Ironies omdat sy die vorige gesondheidsminister was, of omdat haar sterfte die gevolg is van haar komplikasies met die kontroversiële orgaan wat sy ontvang het. Terwyl plaaslike kringe skielik lofliedere oor Dr Manto sing, is die internasionale media minder genadig. Ondanks 'n klomp bevraagtekenbare dinge, byvoorbeeld haar Vigsbeleid, was Dr Manto se nalatenskap nie uitsluitlik negatief nie. Onder andere het sy baie gedoen met betrekking tot rook in die publiek, malariabeheer, uitbreiding van plaaslike klinieke en dalk ander dinge waarvan ek onbewus is. En 'n mens moet wonder hoeveel van die Vigsbeleid deur haar gedryf was, en hoeveel was deur voormalige president Thabo Mbeki voorgeskryf.

En die hele land is aan die gons oor die doodsieklike Schabir Shaik wat dan so gesond lyk. Gaan President Zuma vir Shaik 'n presidensiële vryskelding gee?

Gepraat van Zuma, wie sou kon raai ons president is se stokperdjie is skaak? Glo is hy 'n waferse skaakspeler en gaan hy aan 'n skaaktoernooi deelneem met die doel om die spel onder jongmense in die platteland bekend te stel.

Die oposisie party COPE is nou een jaar oud, maar blyk om te kwyn. Hopenlik kan hulle 'n tweede asem kry sodat Suid-Afrika se partyprofiel 'n gesonder demokrasie sal toon.

Een ding kan 'n mens omtrent Suid-Afrika sê: Dis altyd interesant! Met soveel karakters het 'n mens nie sepies soos 7de Laan nodig nie. Hou bloot die nuus dop.

Slegs enkele weke voor ek bietjie in Suid-Afrika kan gaan kuier. Ek raak reeds opgewonde!

No comments: