Thursday, 31 December 2009

Iris


Ek het die volgende dekade ingegaan deur die Koreaanse spioen-reeks Iris klaar te kyk. Dit was verfrissend goed en vreeslik resent. Van die nuutse geboue in Seoul is as agtergrond gebruik en die tydsplasing is Herfs. Dit beteken dat die reeks, veral die laaste helfte daarvan, moes binne Oktober en November, en dalk selfs ’n bietjie in Desember, geskiet gewees het. Die verdere implikasie is dat daar bitter min tyd vir naproduksie (“post production”) was. Met ander woorde, die redigeringstyd was bitter kort. Om so ’n kwaliteit produk te lewer, met so min tyd wil vir jou gedoen wees! Om so ’n produksie in sulke kort tyd te lewer moes ongelooflike beplanning, koördinering, en bronne vereis het; byna soos die hoogsgeheime anti-terreur kantoor waarom die reeks se plot draai. Die produksie is verfilm deur die KBS uitsaaier se Kanaal 2 – hulle verdien ’n pluimpie.



Die storie handel oor relasies tussen Suid en Noord Korea en moontlike besprekings wat tot vereniging kan lei en ’n geheime wêreld wye organisasie wat dit wil verhoed. Dan is daar ook die hoofkarakters – twee spesiale agente en boesemvriende wat op dieselfde dame verlief raak en uit eindelik bloedvergieting tot gevolg het.

My Taekwon-Do instrukteur sê dat alhoewel die reeks baie goed is, die meeste Koreane hulleself nie volkome daarin kan inleef nie omdat daar soveel gewere in die storie is. Gewere is buitesig in Korea. Die meeste van die tyd dra die polisie hier nie gewere nie – hulle is eerder gewapen met rubber swaarde of tongfas (knubbels). So tensy jy na ’n weermagbasis gaan, of op die lughawe gaan rond hang, is jou kans om ’n geweer in Korea te sien, bitter skaars. Ook vertel my instrukteur vir my dat die storie losweg gebasseer is op die Amerikaanse reeks 24. Ek het self nog nie die reeks gesien nie, maar met Korea se reputasie vir “culture theft” sal dit my geensins verbaas nie.

Nietemin, dit is ’n uiters boeiende reeks. Maar dis ook ’n tipiese Koreaanse reeks, en as jy Koreaanse flieks ken sal jy weet dat dit oorloop van Han – daardie vreemde Koreaanse emosie waarvoor daar nie ’n ordentlike vertaling bestaan nie. Die beste vertaling vir Han is seker "wanhoop" ’n gevoel van hopeloosheid. So wees gereed vir baie traantrekker tonele en situasies wat nie eindig soos ’n Hollywoodfliek sou eindig nie.


Die hoofkarakter is die aantreklike Byung-Hun Lee. Dit het my ’n ruk geneem om agter die kap van die byl van sy aaktreklikheid te kom. My konklusie is verassend. Dit is sy groterige neusgate wat so goed by sy donker oë pas en ’n interesante estetiese herhaling tot geweeg het. Daarby saam het hy ook diep kuiltjies aan weerskante van sy mond, wat vir skaduwees sorg wat weereens die estetiese herhaling tot gevolg het. Hy het ook ’n eienaardige mond, waarvan sy bolip dikker is as sy onderlip. Die meeste mense het dunner bolippe – vernaam mans.


Die hoofaktrise het my nie veel aangegaan nie. Daarenteen was daar ’n mede-karakter, gespeel deur So-Yeon Kim, wat die Noord Koreaanse spesiale agent vertolk. So-Yeon Kim is iets besonders. Die meeste Koreaanse vroue doen dit nie vir my nie – ek het dit al op vorige geleenthede bespreek. So-Yeon Kim, aan die ander kant, het my maak regop sit en notas neem. Dit is waarskynlik haar karakter waartoe ek so aangetrokke voel. Sy herinner my aan ’n kat. Ek moet ook bieg dat ek meer van haar met korthare hou (soos wat sy in die reeks vertoon) as met lang hare. Die korter hare gee aan haar ’n baie meer unieke beeld, en in Korea is dit juis die unieke individuë wat my aandag trek. Weens die kollektiewe kultuur is daar, mynsinsiens, te min uniekes en aangesien ek nog nooit een was vir groepe (en groepdenkie) nie, is dit altyd die uniekes wat met my ressoneer.

Dankie aan Boer-in-Ballingskap wat my van hierdie reeks bewus gemaak het . . . en ook gesorg het dat ek die laaste paar aande selfs later in die bed gekom het as gewoonlik. Ek moet ook byvoeg dat die reeks my nogals gehelp het met my begrip vir die Koreaanse taal. Ek het verassend baie uitdrukkings en woorde herken en kon dus my luistervermoeë oefen. Dalk moet ek meer gereeld Koreaanse reekse kyk. Die probleem is egter dat ek nie ’n TV besit nie, en dat die meeste reekse (soos ek verstaan) soppie-sepies is, en ek is nie een vir sepies nie. Met die suksel van Iris kan ek net hoop dat daar meer sulke tipe reekse geproduseer sal word.

1 comment:

Anonymous said...

Ek's bly jy't dit geniet! Stem ansoluut saam oor So Yeon Kim.