Tuesday 11 November 2008

Nog 'n ou vriend...


Ek was bly om weer een van my vriende te kon sien oor die naweek. Jin was een van eerste studente in Korea, toe ek die vorige keer hier gewerk het. Ek het baie lekker met hom en sy meisie gekuier. Ek dink dit was juis die feit dat hulle twee was, wat dit gemaklik gemaak het. Baie keer het ek gevoel as ek met ’n enkel Koreaanse student kuier dat daar van my verwag word om te “entertain”. Maar Jin en sy meisie kon mekaar “entertain” – en omdat hulle met mekaar kon gesels was daar nie druk op my om as ’n tipe sosiale Engelse tutor op te tree nie. Jin het intussen ’n ander meisie vir wie ek vermoedelik nog sal ontmoet.

Met my vorige verblyf in Korea het ek en Jin verskeie kere saam gekuier, ek het selfs ’n paar keer vir hom gaan kuier in die kamertjie (1.5 x 2m!) wat hy gehuur het terwyl hy werkloos was. Koreane nooi nie sommer mense oor na hulle huise toe nie. Jin was een van die enkele Koreane wat my oor genooi het om te kom kuier. Kort voordat ek terug is Suid-Afrika toe het Jin ’n werk by ’n boukonstruksie-maatskappy as ingeneur gekry in die hitteruilerdepartement. (Ek het nogal baie ingenieursvriende wat met hitteruilers te doene het... Ek wonder wat sit daar agter?) Met sy nuwe werk kon Jin ’n beter blyplek bekostig. Ek was ook genooi daarheen op een geleentheid.

Saterdagaand toe ek die musiekblyspel gaan kyk het, het Jin en Lindiwe saam gegaan. Na die tyd het ek en Jin gaan uiteet (Lindiwe moes huistoe). Dit was regtig aangenaam om hom weer te sien. Jin het herhaaldelik gesê dit voel vir hom of hy droom. Hy kan nie glo dat hy my weer sien nie. Daar was geen waarborg dat ek weer Korea toe sou kom nie en daarom geen waarborg dat ons mekaar weer sou sien nie. Hopenlik sal ons nou meer gereeld geleentheid maak om te kuier.

Daar is nog ’n hele paar kenisse/vriende hier in Korea vir wie ek nog nie gesien het sedert ek terug is nie. Nietemin, ek is bly dat ons stelselmatig weer kontak maak.

The photo in this post is not a Creative Commons image.

No comments: