Gister het ek ’n vreemde ervaring gehad. Deur die loop van die dag het dit aansienlik kouer geraak, soveel so dat die klere wat ek aangehad het nie meer gehelp het nie. Gevolglik, toe my laaste klas om 16:00 eindig toe haas ek huistoe net om weer te ontdooi. ’n Halfuur later bel die akademiese dekaan my by my huis en vra dat ek hom onmiddelik moet kom sien by sy kantoor.
Dadelik begin ek stres en wonder wat ek verkeerd gedoen het. Die feit dat hy my by die huis bel, beteken dat hy eerstens my by my kantoor moes gaan soek het. My afwesigheid daar lei hom toe om my by die huis te soek. Soos ek moontlik al genoem het, is ek teoreties veronderstel om op kantoor te wees tussen 9:00 en 17:00, maar dis baie ontspanne met niemand wat oor ’n mens se skouer loer nie, so om bietjie vroeër huistoe te gaan is nie ’n kwelling nie. Nietemin, toe die akademiese dekaan my bel met só ’n dringende versoek toe wonder ek of ek nie dalk in die verknorsing is hieroor nie.
Oppad na sy kantoor probeer ek dink wat ek moontlik verkeerd gedoen het. ’n Ander moontlikheid behels die Internet. Buiten dat Suid-Korea sekere webbladsye blokkeer, blokkeer die kampus se Internetbediener ook sekere webbladsy. Nou, ek rebelleer onmiddelik wanneer dit by dinge soos sensorskap kom, en daarom wil ek júís die inligting bekom wat van my weerhou word. Gevolglik gebruik ek maniere om die blokkasies te omseil. Niks onwettigs nie, maar tog berade. Oppad na die akademiese hoof toe wonder ek of hulle nie dalk my Internetaktiwiteite dophou nie en sien dat ek hulle inligtingshindernisse systap. Ek verbeel my hoedat hy vir my gaan sê dat ek droogmaak en dat hulle my in die pad steek.
By sy kantoor kom ek aan en hy groet my heel vriendelik en maak my sit. Hy begin die gesprek deur te noem dat dit die eerste keer is wat ek en hy amptelik gesels (ons het al vinnig ontmoet, maar my direkte hoof is die Engelse departementshoof, so ek het selde met die akademiese- / administratiewe kantoor te doen). Hy vra my uit oor my werksomstandighede, hoeveel klasse ek aanbied, my ure, of ek gelukkig is. Al die tyd klop my hart vinnig en wag ek vir een of ander obskure gebeurlikheid, ’n mistrap wat ek gemaak het, ’n oortreding (willens-en-wetens óf onkundig), wat die rede is dat die akademiese hoof my so dringend wil sien.
Dan begin hy gesels oor die ekonomiese krisis in die wêreld en hoedat uitlanders veral daardeur geaffekteer word. Omdat die Koreaanse geldeenheid verswak het teenoor die (reeds verswakte) Amerikaanse Dollar, verduidelik hy, kry ons uitlanderpersoneel moontlik swaar wanneer ons geldwissel en terug stuur na ons tuislande. En toe haal hy ’n koevertjie uit. Die rektor het voorgestel dat ons uitlanderpersoneel ’n bonusvergoedingtjie moet kry as ’n teken van die universiteit se waardeuring van ons. Die geskenk val ook te same met Thanks Giving Day (die Amerikaanse vakansie dag wat gister plaasgevind het), om sodoende dubbel spesiaal te wees. Hy handig aan my die koevert met 500 000 Won. Dis omtrent US$337 en sowat R3400 teen die huidige wisselkoerse.
En so word my skuldige gewete beloon.
Ek dink toe aan Adam nadat hy gesondig het. God roep hom, maar Adam wil vlug uit vrees vir God. God kom, en in plaas daarvan om Adam die doodstraf toe te ken, gee God aan Adam die Goeie Nuus – ja, jy gaan sterwe want dis die natuurlike gevolg van keuses wat in disharmonie met die Bron van Lewe is, maar Ek gaan ’n manier voorberei om jou weer tot My te versoen. Ons sondig en weet dit, tog kom God en in plaas van straf, beloon God ons. Nie vir ons sondes of goeie werke nie, maar bloot omdat God God is.
Ns. In ’n vorige inskrywing het ek genoem hoedat my werk baie goedgunstig met geskenke teenoor ons personeel is.
Nns. Hierdie ervaring spreek luidkeels uit teenoor die sogenaamde The Secret-fenomeen wat die wêreldoorspoel het en beweer dat ons kry die dinge wat ons verwag om te kry. Nou ja, ek was oortuig dat ek in die moeilikheid is vir iets, maar in plaas van moeilikheid, is ek beloon met geld en waardering vir my werk. So much for The Secret.
No comments:
Post a Comment