Friday 5 December 2008

’n Baie uitputtende week

Ek voel pootuit. Om een of ander rede was hierdie ’n baie uitputtende week. Ek is terdee bly dat dit Vrydag is. Die Sabbat kan my net goed doen.

Wat presies die rede was vir die week se uitputting is duister.

Ek het weer begin om te oefen hierdie week en was beide Dinsdagaand en Donderdagaand na Taekwon-Do, sowel as na Hapkido Donderdagaand. Ek het nog nie weer begin met gewigoptel oefeninge nie. Donderaand by Taekwon-Do het ons skerm (“sparring”) gedoen. Ek is nie gek na skerm nie, maar dit was lekker gewees. Saam met my oefen ’n groepie swartbelde (ons was vyf), gevolglik kry ek kans om teen mede swartbelde te skerm. Ek het lanklaas saam met swartbelde geoefen. In Suid-Afrika is ek gewoonlik die enigste swartbeld in my klas. Ek is bly dat my skermsessies op Donderdag nie te sleg was nie. Alhoewel ek nie gereeld skerm teen aander swartbelde nie het ek geensins sleg gevaar teen my nuwe swartbeldmaatjies nie. Inteendeel. (Onthou my dat ek later vertel van die moontlikheid dat ek Japan toe gaan gaan vir ’n Taekwon-Do kompetisie oor ’n paar weke.)

Ek het ook hierdie week vir my ’n pakklere gaan koop. My vriend Young se troue is oor twee weke en aangesien ek die gasheer is (soos ek verstaan is dit basies die seremonie meester), het ek gedink ek beter die deel lyk. En met ’n onlangse bonus het ek vir my ’n pakklere gaan soek. Young is saam met my Dinsdagmiddag om na verskillende opsies te kyk. Ek het toe vir my iets uitgekies waarvan ek hou en wat binne my begroting pas. Dis ’n suiwer swartpak (nie grysswart, blouswart of bruinswart nie) met ’n effense glans. Alhoewel die glans dit gepas maak as ’n aandpak, is die wol/sy-ratio van so aard dat ek dit ook gemaklik as ’n dagpak kan dra. Vroeër vandag het ek, Young en sy fianceé, Angelina, die pak gaan optel. Ek het dit aangepas en Angelina hou baie daarvan. Hieroor is ek gelukkig, want dit is allermins haar en Young se troue waarvoor ek die pak in die eerste plek aangeskaf het. Hierdie is die eerste pakklere wat ek koop sedert my matriekafskeid meer as ’n dekade gelede.

Die week het ek ook baie merkwerk gedoen. Volgende week is die laaste week voordat die eksamens die daaropvolgende week begin. Daarom moet ek al my merkwerk klaar hê, sodat ek hierdie komende week die studente ’n idee kan gee van hulle gemiddelde, agterstallige toetste kan waarneem en kan voorberei op die eksamenweek waartydens ek ’n nuwe ontsteking van merkwerk gaan hê om te doen.

1 comment:

Joa said...

Japan toe? Vertel meer!