Friday 19 December 2008

Afrikaanse kersgedigte

’n Vriend het vroeër vandag aan my hierdie twee gepaste gedigte uit die Afrikaanse kanon gestuur. Dit was aangenaam om hulle weer te herontdek.

Maria

’n Engel het dit self gebring,
die vreugde-boodskap – en jy het
’n lofsang tot Gods eer gesing,
Maria, nooi uit Nasaret!

Maar toe Josef van jou wou skei
en bure-agterdog jou pla,
het jy kon dink eenmaal sou hý
die hele wêreldskande dra?

Toe jy soms met ’n glimlag langs
jou liggaam stryk … die stilte instaar …
wis jy met hoeveel liefde en angs
sou hý sy hellevaart aanvaar?

Die nag daar in die stal – geeneen
om in jou nood by jou te staan –
het jy geweet dat hy alléén
Getsemane sou binnegaan?

Toe vorste uit die Ooste kom
om nederig hulde te betoon,
wis jy hoe die soldate hom
tot koning van die volk sou kroon?

En toe hy in jou arms lê,
sy mondjie teen jou volle bors,
het jy geweet dat hy sou sê,
toe dit te laat was: Ek het dors!

Toe dit verby was en jy met
sy vriend Johannes huis toe gaan –
Maria, vrou van smarte, het
jy tóé die boodskap goed verstaan?

Elisabeth Eybers (1915-2007)
Uit: Belydenis in die skemering, 1936


Kersliedjie

Drie outas het in die haai Karoo
die ster gesien en die engel geglo,

hul kieries en drie bondels gevat
en aangestryk met ’n jakkalspad

al agter die ding wat skuiwend skyn
op ’n plakkie, ’n klip, ’n syferfontein,

oor die sink en die sak van Distrik Ses
waar ’n kersie brand in ’n stukkende fles,

en daar tussen esels en makriel
die krip gesien en neergekniel.

Die skaapvet, eiers en biltong
nederig gelê voor God se klong

en die Here gedank in gesang en gebed
vir ’n kindjie wat ook dié volk sou red …

Oor die hele affêre het uit ’n hoek
’n broeis bantam agterdogtig gekloek.

D.J. Opperman (1914-1985)
Uit: Blom en baaierd, 1956

1 comment:

Chris Malan said...

Kersliedjie was nog altyd een van my gunstelinge. Daar's te min humor in die wêreld.