heelnag lank loop ek in jou spore,
vul ek jou kontoere versigtig
soos water wat oog in die kom maar nie spil nie;
jy’s windop en ruik na vars gekneusde appelkose
en jy ruik na adrenalien; jy huig, jou longe brand soos seks
weens die naglug; daar is sweet, silwer soos ’n spieël in die maan,
op jou voorkop, jou neus, jou lippe, jou nek, jou skouers,
jou wulpse borste stoom soos hingste;
soms staan jy stil en luister,
dan hou ek my asem ’n leeftyd op en word ’n roerlose boom
tot jy weer die voetpad windop vat met kameelperd tree;
heelnag lank pluk ek jou spore uit die grond,
maak hulle in pare bymekaar en bêre in my rugsak
sodat geen predator jou spoor kan sny nie.
No comments:
Post a Comment