Friday 5 December 2008

Bio: Goddelike woorde

In my vorige inskrywing wou ek eintlik “’n geweldig uitputtende week” in plaas van “’n baie uitputtende week” gesê het, maar kondisionering en ’n ligte toedoen aan die geloof dat woorde magies is, laat my dit nie toe nie. As kind was daar sekere woorde wat ons nie mag gesê het nie. Erger as vloekwoorde was woorde wat gekoppel is aan God nie geskik vir alledaagse gebruik nie. Woorde soos “magtig”, “wragtig” of “waaragtig” mag nie gesê gewees het nie omdat slegs God magtig en waaragtig is. “Bloody” en “damn” is nie ordentlik nie, want ’n mens spot nie met die bloed nie, en om te vervloek is nie ons voorreg nie. So my hele lewe lank het ek weggeskram van hierdie woorde. Nadat ek ’n Christen geword het op universiteit ontmoet ek ’n ou dame wat my vertel dat toe sy groot geword het ook woorde soos “geweldig”, “verskriklik” en “vreeslik” taboe was, omdat slegs God sulke grootshede is. Daarom is ek ook skugter om hierdie woorde te gebruik want die Naam van die Here behoort nie ydel gebruik te word nie en in Bybelse terme is ’n naam nie bloot ’n term waarmee ons iemand identifiseer nie; ’n naam verteenwoordig eienskappe en karakteristieke. God is nie net waaragtig nie, God is die Waaragtige. God is nie bloot magtig nie, God is die Almagtige. En woorde is nie net woorde nie. Dis deur die Woord dat alles tot stand gekom het.

No comments: