Thursday 11 March 2010

'n Dag in die lewe van...

Nie te slegte verjaarsdag nie. Niks spesiaals nie, maar darem nie so 'n onaangename dag soos verlede jaar nie. Dit was 'n vol dag met baie klasse; nogals uitputtend. Na werk is ek Taekwon-Do klub. My afrigter het aan my 'n geskenkie gegee -- 'n besigheidskaartjiehouer. Dis dalk 'n teken dat ek meer met my besigheidskaartjies moet begin rondloop -- my werk het juis onlangs vir my 'n pak besigheidskaartjies gedruk.  Na Taekwon-Do is ek uit vir aandete met 'n handjie vol vriende -- nogals 'n vreemde kombinasie: 'n kollega, 'n voormalige buurman, en 'n student.

Dit was ook my eerste "wit" verjaarsdag. Dinsdagaand se sneeu lê nog dik. Vandag het hompe sneeu soos plomp konyne uit die bome geploert. (Ek weet nie wat plomp konyne in bome sou maak nie, maar dis hoe dit vir my gelyk het -- konyne wat selfmoordpleeg en dan kamakazi vanaf die boomtakke af.)


Die foto hierbo is van die Engelse departement waar ek werk. Die sneeu die laaste paar dae het die onlangse koue die moeite werd gemaak. Dis eenvoudig pragtig gewees.

'n Interesante verwikkeling was toe 'n vriendin my kom vertel van 'n gemeenskaplike kennis ('n ander uitlander) wat gearresteer is omdat hy vermoedelik van sy (Koreaanse) studente gemolesteer het. Dit ontstel weens twee redes. Eerstens, natuurlik, omdat sulke dinge (seksuelemisbruik van kinders) my oor die algemeen ontstel. Tweedens omdat ek juis onlangs my ongelukkigheid uitgespreek het oor die Koreaanse media wat Westerlinge verkeerdelik uitmaak as almal pedofiele. Hierdie Westerling se gedrag bewys nou natuurlik die stereotipiese indruk wat die Koreaanse media van ons Westerlinge het korrek, en maak dit vir ander (onskuldige) onderwysers soos ek ongemaklik in my gasheerland.

Maar dit tersyde. Hierdie week in die Shakespeare-film klas het ons na die 1996 film Romeo + Juliet gekyk. Ek het al vergeet watse lawwe, maar uitmuntende fliek dit is. In my poësie klas behandel ons tans William Blake en het vandag gekyk na "The Lamb", "The Tyger" en "A Poison Tree". Terwyl ons die gedigte behandel is ek net opnuut beïndruk met hoe 'n goeie skrywer Blake was. "The Lamb" is op die oog af so 'n eenvoudige gedig, maar eintlik is dit baie komplekser as wat dit lyk. Baie komplekser. Ek wens ek kon meer tyd aan daardie gedig spandeer het, maar die studente is nog nie bevoeg met die nodige vaardighede om die gedig te desekteer soos wat ek sou wou nie. Nietemin, dit is 'n wonderlike geleentheid om sulke waardevolle letterkunde te kan doen; en dit boonop op my verjaarsdag. In die British & American Essays klas het ons vandag 'n essay van Francis Bacon gelees. Wat 'n inspirasie! Die man was eenvoudig 'n meesterlike skrywer.

Ek werk regtig baie hard en moet bieg dat ek pootuit is; maar ek het eintlik min om oor te kla omdat ek 'n werk het en dit boonop nog geniet ook! God is goed, Jesus leef -- wat meer is daar te sê?

2 comments:

BoerinBallingskap said...

Hou van jou beskrywing...plomp konyne uit die bome. :)

Skryfblok said...

Ek't gedink jy sou.