[Image Source: How Stuff Works]
“Wat swot jy?” vra sy.
“Skryfkuns.”
“Oe!, Skryfkuns! Ek het nog altyd gewonder wat mens se handskrif van jou kan verklap. Die waarheid is, my handskrif lyk elke dag anders. Ek het honderede handskrifte. Dit hang van my mood af. Kan jy na my handskrif kyk en sê wat jy sien? Jy kan mos, né!”
“Skryfkuns is nie handskr...,” probeer ek maar sy val my in die rede.
“Kyk hier’s papier, laat ek gou iets skryf.” Sy skryf iets. “Dé,” sê sy en gee my die papier met haar geskribbel op. “Wat sê dit vir jou van my.”
Ek kyk daarna. “Jy’s flippen stupid,” dink ek, maar hou dit vir myself. “Jou letters is baie flambojant en kursief,” sê ek. “Dit beteken seker dat jy ’n sosiale mens is, waarskynlik nie skaam nie, moontlik emosioneel.”
Wanneer mense my vra wat ek (ge)studeer (het) en ek antwoord Skryfkuns is die reaksie gewoonlik dieselfde. “Wat’s dit?” of “Nou wat kan jy nou eintlik daarmee doen?” Ek is al moeg om te verduidelik. Maar as ek nie verduidelik nie dan kom hulle darem met die vreemdste konklusies na vore – soos dat Skryfkuns eintlik Handskrifontleding is, soos in die geval van dié derde jaar Sielkunde student. (Niks teen Sielkunde studente nie!)
Of hulle begin my uitvra oor grammatika en sintaks. Wat op dees aarde het grammatika met Skryfkuns uit te waai? Dis soos om vir ’n paneelklopper uit te vra oor enjins. “I’d prefer not to teach academic writing this semester,” erken ek aan ’n kollega. “But, you have a degree in creative writing!” spil sy geskok. Dis juis die punt – “creative writing” is nie “academic writing” nie. Ek kan “academic writing” gee, ek het die vaardighede daarvoor, maar bloot omdat ek ’n graad in Skryfkuns het maak nie van my ’n kenner in grammatika, of akademiese geletterdheid nie. Toevallig het ek ondervinding in hierdie ook, maar dit is bysake.
Dalk moes ek iets anders geswot het. Argitektuur. Ek is seker argitekte word nooit gevra om handskrifontleding te doen nie.
No comments:
Post a Comment