Wednesday, 11 March 2009

Verjaarsdagblues

Ek het nie ’n lekker verjaarsdag gehad nie. Dis nie dat ek juis ’n spesiale dag verwag het nie – ek dink glad nie dat my verjaarsdag juis anders as enige ander dag hoef te wees nie. Sulke kinderlike betowering is lankal reeds ontnugter deur die gryse werklikheid.

Tog, vandag was ’n besonderse slegte dag. Dit het reeds gisteraand begin nadat ek ’n e-pos van een van my broers ontvang het. Die e-pos was ’n verontskuldiging. Ek stem nie saam nie en het dit ook so gesê in ’n repliek. Sedert gisteraand, en die hele dag lank vandag, pla ons diskoers my. Ek is verbaas hoedat dit my ontstel het. Ek dink dit het ’n blik wurms oopgemaak en opgekropte gevoelens ontketel wat ek nou al vir ’n lang ruk onderdruk.

En toe boonop vanaand in Taekwon-Do het ek iemand seer gemaak. Dit was nie heeltemal my skuld nie maar ek voel nietemin sleg daaroor. Ons het geskerm (“spar”) – ek het ingekom met ’n skop, gelyktydig het my opponent ook ingekom, en op ’n manier toe tref ek hom met die knieg teen die kop (vermoedelik tel ek my knieë nogal hoog op). Onderstebo is die knaap toe. En dit is nadat die instrukteur my reeds gewaarsku het dat my verdediging te sterk is. Verbeel jou dit! ’n Verdiging is te sterk?! Die probleem is dat ek al vir ’n dekade en ’n half oefen aan my verdediging; dis kern tot my manier van veg; dis karakteristiek tot my tegniek. Voordat ek my studente enige iets leer van skerm, leer ek hulle hoe om ’n sterk verdediging te hê. Maar, sê die instrukteur, ek gaan my oefenmaats beseer weens my harde blokke. Ek veg nie normaalweg baie hard teen my oefenmaats nie, grootliks omdat hulle veel laer is as ek in rang. Maar vanaand het ek teen ’n mede 3de Dan geveg. Hy is aansienlik ratser as ek en daarom het ek nie soveel terug gehou as gewoonlik nie. Tog het ek ook nie volheid gegaan nie. Die slegte ding is dat dit nie die eerste keer is wat ek hom uithaal nie. Op ’n vorige skerm geleentheid het ek ’n spinskop gedoen en hom vol teen die kop getref – dankie tog vir die kopskerm wat hy gedra het. Hierdie voorvalle laat dit klink asof ek nie beheer het nie, en dit is geensins die geval nie. Dis bloot dat op ons vlak die gevegspoed aansienlik vinniger is en, mynsinsiens, my opponent in my tegnieke in beweeg. En dit is nie asof ek nie ook ’n bietjie deur sy tegnieke getref is nie.

Is ek besig om myself te probeer verontskuldig soos my broer? Net die gedagte ontstel my verder.

Dit was nie ’n lekker dag nie.

No comments: