Die dis in die foto hierbo is nie my eie nie, maar dit is tipies iets wat ek
vir myself sal maak. Sien die resep vir hierdie Fusilli-pastaslaai by VideoJug.
vir myself sal maak. Sien die resep vir hierdie Fusilli-pastaslaai by VideoJug.
Ek was beide gister en vandag uit om inkopies te doen -- hoofsaaklik kos. Kos is my grootste noodsaaklike uitgawe in Korea. My verblyf, water-en-elektrisiteit, Internet, en lokale telefoonoproepe word deur my werkgewer voorsien. Verder bly ek baie naby aan my werk sodat ek nie 'n kar nodig het nie, en gevolglik ook nie daardie ander uitgawes wat met karre saamgaan nie, soos brandstof en versekering. Daar is ander dinge waaraan ek geld uitgee, soos boeke, krygskunsklasse, flieks, en publieke vervoer, maar hierdie dinge is nie noodwendig noodsaaklikhede nie. Dis meer psigologiese gesondheids-inplekhouers.
Maar kos . . . kos in Korea kan nogals duur wees. Ek kan goedkoper leef indien ek bloot elke dag na die kampuskafeteria gaan en Koreaanse kos eet. Die probleem is egter dat ek geniet eet en is gek oor lekker kos. Gewoonlik wanneer ek by die kafeteria eet voel ek nie daardie deurskemerings van euforie wat ek ervaar wanneer ek my eie kos eet nie. Dis waarskynlik kultuurgebonde. Dis moontlik dat die Koreane opgewonde raak oor hulle eie kos, net soos wat ek opgewonde raak oor my eie kos. Die jammerte is egter dat ek raak nie so opgewonde oor hulle kos soos oor my eie kos nie. Gevolglik moet ek maar vir myself kos maak. Gelukkig is dit glad nie moeite nie. Ek eet redelik eenvoudig en geniet kos maak (dis die opwas na die tyd wat ek nie geniet nie).
Dus spandeer ek nogals baie geld aan kos. My eerste keer in Korea het ek geweier om so duur vir kos te betaal. Ek kon nie glo dat 'n trossie piesangs my R30 kos nie, of twee verpiepte mangotjies oor die R100 nie. Dit het niks sin gemaak om R20 te betaal vir 'n kwart van 'n broccolli nie. My gesondheid het begin om daar onder te lei. Toe ek besluit om weer Korea toe te kom, het ek voogeneem dat ek gaan myself nie van goeie kos ontsê nie en volg toe die raad van 'n tannie wat eens gesê het: "Money spend on nutritious food is never wasted."
So nou koop ek maar kos en probeer baie hard om nie die geldwaarde om te skakel na Rande toe en sodoende die pryse hier in Korea met die pryse in Suid-Afrika te vergelyk nie. Ek's nie onnodig spandabelrig nie, maar ek maak seker dat ek dinge het wat my gelukkig maak: basiliekruid-pesto, fetakaas, ongegeurde jogurt, gevriesde mango-stukke, bessies, grane, sade en neute, kerriepoeier en vars gemmer, en so meer. Aan die begin van die jaar, soos nou, koop ek gewoonlik meer om weer my kaste vol te kry. Voor ek op vakansie was het ek omtrent niks gekoop nie en my kaste leeg gemaak van bederflike dinge. Gevolglik het ek nou nogals meer geld uitgegee aan kos as wat ek tipies maandeliks daaraan sal uitgee. Ondanks my besluit om nie te skroom vir geld uitgee op goeie kos nie, kan ek nie help as om bietjie skuldig te voel oor geld uitgee nie. Die skuldgevoelens is moontlik 'n remnant uit my armjare op universiteit. Daar was tye dat ek so min geld gehad het dat ek bottels moes ingee vir kleingeld om brood mee te koop.
Het ek genoem dat ek 'n sak sjokkelade ook gekoop het?
2 comments:
Ek eggo jou denke oor kos in Korea, want ek is nou maar eenmaal 'n lekkerbek. Verseker my grootste maandelikse uitgawe.
Inderdaad.
Post a Comment