Tuesday, 19 January 2010

My kerkfamilie

This is not a Creative Commons-image.
Saterdagoggend (9 Januarie) sê ek vir my broer T dat ek na die Sabbathouende kerk in Potchefstroom wil gaan. Dit is my “tuisgemeente,” of ten minste, die kerkie waar ek mees “tuis” voel. As jong volwassene was ek ’n panteïs en ’n aanhanger van verskeie Nuwe Era praktyke. Stelselmatig het my lewens-en-wêreldbeskouing verander vanaf panteïsme na teïsme (in deels te danke aan C. S. Lewis se Mere Christianity) en ’n aanbidder, nie meer van die Skepping nie, maar van die God van die Skepping. Uiteindelik het ek ’n Christen geword (in deels te dankie aan die boekie Steps to Christ) en na ’n tydperk van persoonlike Bybelstudie het ek begin om die Sabbat te hou. Die Sabbat is die hoofteken van die Skepper God. Op hierdie stadium het ek in Potchefstroom gewoon en gevolglik aangesluit by die plaaslike Sabbathouende kerkie. Die gemeentetjie (met al haar foute) het hulle oor my ontferm en my as jong Christen versorg en liefgekry. Daar is baie mense wat baie goed vir my was, in besonder Oom Andre en Tannie Lydia. Hierdie lieflike mense was veral belangrik om my te help om die Evangelie reg te verstaan en nie ’n slagoffer van werksheiligheid te word nie – dat werke geen waarde in verlossing het nie; verlossing kom deur Genade alleen. Buiten vir hulle geestelike bystand, het hulle (en die gemeente) my ook op ander maniere bygestaan in tye wat dit bitter swaar met my gegaan het. Terug in Suid-Afrika was een van my eerste behoeftes om tog weer bietjie die Potchefstroom gemeentetjie te gaan besoek. En wat ’n lekker kuier was dit nie! Almal was bly om my te sien – ek het behoorlik gevoel soos die Verlore Seun wat terug gekom het huis toe. Na die erediens is ek na Oom Andre en Tannie Lydia se huis waar ’n hele groep mense bymekaar gekom het vir middagete en geselligheid. Daar is min dinge so heerlik as die Sabbat, veral as dit gepaart gaan met die warm geselskap van geliefdes. Ek en T het heel moontlik eers om vyfuur die middag vertrek, terug na die Vaaldriehoek waar T bly, en waar ek tans vertoef voor my verskillende reise deur Suid-Afrika begin.

Saterdagaand sien ek ’n program op TV genaamd “Supersterre”; al wat ek kan sê is “O wee!”

1 comment:

Lindi said...

...nice church family....I like it small...