Rondom half elf gisteraand land die vliegtuig in Hong Kong. Bedwelmd van moegheid (ek het min die vorige aan geslaap) strompel ek na die draaivloer om my bagasie op te tel. Ek wag en wag en wag, totdat die skerm notifeer dat al die bagasie afgelewer is. 'n Personeellid stap nader en vra of hy my kan help, hy gee een kyk na my kaartjie en kondig aan dat ek die hele tyd by die verkeerde draaivloer gewag het. Daar het twee vlugte vanaf Seoul op dieselfde tyd by Hong Kong aangekom -- my bagasie is by die ander draaivloer.So kry ek toe my bagasie, na 'n baie lang ruk.
Ek neem ek Taxi na Tsim Sha Tsui, Kowloon, waar ek slaap plek bespreek het by 'n goedkoop-akkomodasie woning. Ek glo dat die taxi heeltemal te veel vra vir die rit, maar is te moeg om te baklei. Ek kry uiteindelik die plek waar ek bespreek het, maar die bestuurder vra onverskoning omdat hy die kamer uitverhuur het vir iemand anders. In my bespreking het ek genoem dat ek teen middernag daar sou wees, maar omdat ek by die verkeerde draaivloer vir my bagasie gewag het, kom ek eers 'n halfuur later daar aan. Die bestuurder verduidelik dat aangesien ek nie opgedaag het teen die tyd wat ek gemeld het nie, hy aangeneem het dat ek nie meer gaan kom nie en toe die kamer verhuur het aan iemand anders wat daar gewag het. Maar, verduidelik hy verder, dat ek kan in die kantoorbed slaap.
Tjoef-tjaf jaag hy die Indierman wat tans in die kantoorbed geslaap het daaruit, kry nuwe beddegoed, en vra of ek bereid sal wees om daar te vertoef vir die aand teen halfprys. Ek weet goed dat ek nie die tyd van die aand goedkoper verblyf gaan kry nie, en is in elkgeval te uitgeput om nou te gaan staan en slaapplek soek met al my bagasie. Ja, antwoord ek, dis reg, ek sal in die kantoorbed slaap. Die bestuurder is heel opgewonde, skut my hand en gee my 'n kompliment of twee wat ek nie kan onthou nie. Ek kon aflei dat hy al
baie moeiliker kliente gehad het. Die waarheid is, ek was te moeg om te probeer assertief wees en sou in 'n badgeslaap het as daar een beskikbaar was. Ek het inelkgeval ook al op veel vreemder en ongemakliker plekke geslaap in my lewe. Ek moet bieg dat die bed heel gemaklik was, eens ek gewoond geraak het aan die faksmasjien se liggies, en die wasmasjien se skommel. (Ja, daar is 'n wasmasjien in die kantoor.) Terwyl ek gewoont raak aan al die skakerings van die nag, en die geluide van die gebou, geniet ek die ervaring. Hierdie is alles materiaal vir 'n storie. Die klanke, kleure, gebeure in 'n klein kantoortjie (nogals met 'n bed daarbinne) kan beslis dien as inspirasie vir 'n storie. Ek het verlede jaar veels te min tyd spandeer aan kreatiewe skryf. Dalk kan ek hierdie jaar dit 'n prioriteit maak. Ek het juis 'n paar nuwe idees vir kortverhale.
Sulke snaakse eerste nag oomblikke op nuwe plekke is niks nuut vir my nie. Verlede Desember (2007) was ek
uit my bed gegooi, die eerste aand in Japan.
Ek wou vanoggend op 'n argitektuurtoer gegaan het, maar het te laat geslaap. Uiteindelik toe die hongerpyne en konstruksie geluide my uit die bed kry (so teen tienuur) toe besluit ek maar om bietjie te gaan stap opsoek na kos en 'n universiele-kragprop. Die kragprop het ek gekry by 'n kamerawinkel met 'n Suid-Afrikaanse vlag:
Van der Merwe Camera Shop. Oorkant die obskure stukkie Suid-Afrika is 'n Indiese restaurant waar ek toe maar my brunch gaan geniet -- Palak Panier (Spinasie-kerrie) met Naan (ongesuurde brood).
Om eerlik te wees, sover voel dit nog glad nie na
Hong-Kong nie.Nie dat ek seker is hoe Hong-Kong veronderstel is om te
voel nie. Tans voel dit of ek in 'n onderbuurt in Durban is. Ek het sover hordes Indiers en Afrikane gesien, en 'n handjie vol Sjinese -- ek kon net sowel in Durban wees. (Sien foto onder...)
Huidiglik sit ek in 'n Internet-kafee reg bokant die Indiese restaurant waar ek 'n rukkie terug my honger gelafenis het. Hier vandaan gaan ek probeer om weer my blyplek op te spoor (ek is nie goed met rigting nie, so dit mag dalk langer neem as wat ek graag sou wou). Hopenlik is my kamer gereed, sodat ek bietjie kan uitpak, 'n stort neem en die res van my dag beplan.
Maar ek wil nie onmiddelik vertrek nie want ek het vir 'n uur se Internetverbruik betaal en het nou eers 'n halfuur gebruik. Ek sal nou maar my e-pos kyk, en daarna bietjie inligting opsoek omtrent etiket in Hong Kong. Onder andere, hoeveel 'n mens veronderstel is om te tip. (Is
tip 'n Afrikaanse woord? Dit klink na 'n anglisisme . . . Wat is Afrikaans vir tip? -- fooitjie?)