Monday, 15 June 2009
Slapelose nagte
Verlede Donderdagaand, oppad terug van Taekwon-Do, bel 'n Koreaanse vriend my. Hy is een van my Taekwon-Do-kenisse en aangesien ons byna dieselfde ouderdom is, is ons feitlik outomaties vriende. Dis mos hoe dit werk in Korea -- jy kan slegs vriende wees met jou portuurgroep. Dit was omtrent 23:00 toe die vriend, genaamd Byeong-Du, my bel en vra of ons kan ontmoet. Aangesien hy nie by die Taekwon-Do oefening was nie, dog ek iets is onjuis met hom en besluit ondanks my moegheid en vroeë verpligtinge die volgende oggend, dat ek hom sal ontmoet en vis of dit wel is met sy siel. Byeong-Du kry my toe by die moltrein (teen die tyd is dit al middernag), en ons ry in sy kar omtrent vir 'n uur na teehuis in Yangpyeong of so iets. Ek is seker eers na drie in die oggend by die huis en moontlik eers teen vier uur aan die slaap. Agt-dertig is my eerste verpligting, fakulteitsvergardering.
Gisteraand skakel Byeong-Du my weer. Hy wil Taekwon-Do videos by my kom leen. Hy vertrek rondom drieuur die oggend. Agt-dertig is my eerste verpligting. Die oggend; nog nie eens 11:00 nie en ek is reg vir 'n uiltjie-knip.
Wat steek agter Byeong-Du se kuiers? As ek een tema kan uitlig wat in beide laataande uitgekom het, was dit sy eksmeisie in die eerste aand, en sy verlange om 'n meisie in die tweede aand. My vermoede is dat hy eensaam raak in die aande, verlang na 'n meisie en soek dan 'n spreekwoordelike skouer om op te huil. Nou ja, as vriend is my skouer altyd beskikbaar. Dis soms net ongerieflik as my werksverpligtinge vroeg begin die volgende dag. Gelukkig is dit eksamen week en het ek geen klasse hierdie week nie, slegs eksamens om oor toesig te hou, vraestelle om te merk en nog twee vraestelle om te finaliseer.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment