Monday 15 June 2009

Moenie weg gaan nie

'n Ruk gelede het ek 'n inskrywing gemaak oor Jacques Brel se "Nemme Quitte Pas", waarin ek verskeie weergawes van verskillende kunstenaars geplaas het. Terwyl ek op YouTube gesoek het na van my gunsteling liefdesliedere vir die vorige inskrywing, kom ek toevallig op 'n ander versie van Nemme Quitte Pas af, nogals in Afrikaans. Die lied (veral Nina Simone se vertolking) is waarskynlik een van my top drie gunsteling liefdesliedere, maar omdat ek dit alreeds onlangs op die blog geplaas het wou ek dit nie nou weer herhaal nie. Hierdie Afrikaanse vertolking is deur Laurika Rauch. Om eerlik te wees, ek is nie 'n Rauch aanhanger nie. Nietemin, hierdie weergawe van Brel se tydlose lied is nie te sleg nie. Die Afrikaanse vertaling is ook ryk aan pragtige beeldspraak wat aangenaam is om te hoor. Ek het op 'n keer gehoor hoe Amanda Strydom die lied vertolk en dit is los hande beter as Rauch se vertolking, ten minste in my opinie. Ongelukkig kon ek nie Strydom se vertolking aanlyn opspoor nie. Ook twee van Strydom se ander liefdesliedere wat ek meen van die bestes in die Afrikaanse taal is--Hooglied en Stoom, albei vanaf haar Hotel Royale plaat--is ook ongelukkig nie aanlyn te vind nie.

No comments: