Monday, 22 June 2009

Dood in die familie

’n Oom, my tannie aan moederskant se man, het homself vanoggend geskiet. Die werklikheid daarvan wil nie insink nie. ’n Deel van my huiwer om dit te glo. Dis soos ’n siekgrap en ek wag vir ’n tweede oproep om te bevestig dat dit nie waar is nie. Maar daardie oproep gaan nooit kom nie.

Die motief is onseker. Party mense vermoed dat dit sleg gaan met sy besigheid. In konteks gesien is dit dalk ’n moontlike rede. Hierdie oom het jare gelede met ’n klein koffertjie Suid-Afrika toe gekom, platsakarm. Deur die jare het hy homself opgewerk tot ’n baie ryk en suksesvolle besigheidsman. Indien sy besigheid ten gronde gaan kan dit dalk ’n erge knou tot sy menswees hê – sy besigheidsukses het ’n metafoor vir sy selfwaarde geword; die verval van sy besigheidsukses simboliseer sy eie val. Ander mense sal seker beweer dat die (finansiële?) probleme te groot was, en hy daarvoor nie kans gesien het nie.

Maar is hierdie regtig redes vir selfmoord? ’n Dekade of wat gelede het ek aan ernstige depressie gelei en het ek die geleentheid gehad om selfmoordgedagtes van naby te beskou. Die besef waartoe ek gekom het daartydens was dat mense pleeg nie (noodwendig) selfmoord omdat probleme te groot is nie. ’n Mens pleeg selfmoord omdat jy beweer daar is niks meer om voor te leef nie. So ’n bewering is (gewoonlik) nie waar nie – ondanks, weens jou depressiewe toestand is jy nie instaat om te sien dat daar baie is om voor te lewe nie.

Die laaste paar jaar het ek selde met die Oom te doen gehad. Tog, sy een dogter en ek is goeie vriende – persoonlikheidsgewys het ons baie in gemeen. Sy’s my gunsteling niggie. Dis ’n tragiese gebeurtenis en ek kan my nie indink watse hartseer die familie (vrou, drie dogters, twee skoonseuns en kleinkinders) tans beleef en voortdurend nog gaan beleef nie. My hart is seer vir hulle. Ek wil vir my niggie trooswoorde stuur, maar watse woorde is daar wat troos kan bring? In die aangesig van die dood, voor sulke groot verlies, is woorde soos wasem. Dit verlaat jou mond en verdamp onmiddelik. Daar bly niks van oor nie.

Baie mense (veral religiëuse mense) wil glo dat selfmoord ’n onvergeefbare sonde is. Ek glo dit nie. Iemand wat selfmoord pleeg is gewoonlik nie by hulle volle verstand nie. En God weet dit beter as enige van ons buitestaanders wat nie die "hart" ken nie. Verder is daar voorbeelde van “selfmoord” in die Bybel, byvoorbeeld Simson wat homself en ’n klomp Filistyne gedood het. Is Jesus se selfopoffering nie maar ook ’n tipe (passiewe) selfmoord nie? Jesus het die vermoë gehad om Homself te verlos, maar het gekies om dit nie te doen. Natuurlik is Jesus se voorbeeld nie wat ons as ’n tipiese (selfsugtige) selfmoorddaad sou beskou nie; nietemin, dit illustreer dat selfmoord geensins ’n wit-en-swart, uitgemaakte saak is nie.

Aai...

1 comment:

Sean said...

really sorry to hear about your loss sheepy. My prayers go out to you and your fam- May his soul rest in peace...