Vanoggend word ek vroeër as gewoonlik wakker – seker so net na vyf. En die eerste ding waaraan ek dink is (weereens) my vriend Ruan. Sedert ek Korea toe gekom het is Ruan gedurig in my gedagtes. ’n Aanhoudende gevoel van onjuistheid. ’n Dringendheid oor sy welstand. Ek kan nie verklaar wat daar agtersteek nie – ’n tipe broederlike besorgdheid, ’n intuïtiewe voorgevoel, ’n telepatiese skakel met iets wat hom pla?
En toe begin ek maar, soos ’n paar keer van te vore, vir hom bid. Gly uit my bed uit tot op my knieë en dink aan my vriend aan die anderkant van die wêreld. Aanvanklik wou ek weer terug klim in die bed, maar besluit om hom sommer gou te bel. Dit was seker so elfuur in die aand aan sy kant, terwyl die dag net begin breek het aan myne. Dit was lekker om met hom te gesels. Hy vertel my ook toe van ’n berg akademiese opdragte wat onlangs moes klaar en ander dinge wat stres veroorsaak het. Dit blyk dat ek tog op ’n vreemde manier in voeling is met sy gemoedstoestand.
Ruan en ek het ontmoet deur ons gemeenskaplike stokperdjie Parkour. Ons het ook vinnig agterkom dat ons ander dinge deel, soos ’n inherente rebelsheid teen “die sisteem” en ’n belangstelling in filosofie. Ek en Ruan het die oggend van die dag voor my vertrek na Korea vinnig gekuier oor Mozart-roomys. Ek het soos gewoonlik my aan die Super Caramel-geur verlustig. Dis ook waar die foto geneem is.
The photo in this post is not a Creative Commons image.
No comments:
Post a Comment