’n Paar dae gelede (2 September) was my moeder se verjaarsdag. Sy is nou al nege jaar oorlede. Om eerlik te wees, ek dink selde aan haar. Sy was ’n dinamiese vrou, maar die laaste paar jaar van haar lewe het siekte haar so erg afgetakel dat daar omtrent niks van haar eentydse glorie oorgebly het nie. En ek dink dit is hoekom ek so min aan haar dink. Want om aan haar te dink is om aan haar verval te dink. Tog gebeur dit dat ek soms van haar droom. Dit gebeur min, maar gebeur wel en gewoonlik in my drome is sy nie die gebroke mensie wat sy geword het nie.
Partykeer het ek ’n ernstige behoefte om vir haar iets te vertel. Om iets met haar te deel wat ’n seun graag met sy ma wil deel. En die leemte is goor. Ek verstaan hoekom mense graag wil glo hulle geliefdes lewe voort na die dood. Dit sou lekker gewees het om te kon glo dat my ma sal hoor as ek met haar gesels. Maar dis wensdenkery.
Gelukkig het ek verskeie ander “ma’s” wat my deur die jare aangeneem het en voor wie ek dankbaar is.
No comments:
Post a Comment