Sunday 14 September 2008

Aanmatige kunstenaarskap

"Ek is 'n kunstenaar," sê ek aan iemand en skielik klink dit vreeslik aanmatig, nes die jong rooikop Amerikaner wat ek met my aankoms in Korea op die lughawe ontmoet het. "I don't like the big cities," sê sy. "I'm an artist." Ek ook en dis hoekom ek naby Seoul wil wees, want dis hier waar die kunswerke van die grootmeesters kom toer. Picasso, Van Gogh, Ver Meer, Rodin - almal het ek al hier in Seoul gaan besoek. Sy rol net haar oë.

Nou so 'n kunstenaar is ek nog nie. Kan nog nie my oogkaste smeer met groot selfverwaande oogballe oor die grootmeesters se werk nie.

Maar wanneer kry 'n mens die reg om jouself kunstenaar te noem? Is dit 'n titel wat gebeur na jou eerste uitstalling? Hoe groot moet so 'n uitstalling wees? Moet dit oorsee gaan toer het? Tel 'n gedeelde uitstalling? Of is dit iets wat jy net is, soos jy 'n mens is, of man is? Is dit deel van jou geslag, of wisselvallig soos seksualiteit?

Wanneer mag ek sê, nou is ek skrywer? Nie 'n skrywer nie, maar bloot skrywer - daardie vreemde wese wat so op die randte sit en observeer, notileer, assimileer en dan verwerk weergee met 'n tipe beteulde egoïsme. Want is dit nie tog wat 'n skrywer is nie? Effens selfvoldaan om te glo dat dit wat hy of sy kwytraak is waardig om gelees te word. Is waardig om die tyd en aandag van 'n ander in beslag te neem, asof dit bydrae maak tot alles wat sin en syn is. Kan jy jouself eers skrywer noem na jy gepubliseer is? Is jy voor dan slegs aspirant? Kamma?

Het ek reg tot daardie titels? Kunstenaar. Skrywer. Digter. En plaas myself dan gelyke met ander werke en stemme - veronderstel Judith Mason, Etienne le Roux, Gert Vlok Nel. Wanneer mag jy saam gesels? Nie daaroor gesels nie, maar saam in gesprek tree.

Of neem jy self nooit die titel aan nie, maar laat die onis op ander om jou te beterm? En dan kan jy terug antwoord met 'n regstelling, soos een vrou antwoord toe sy gevra is of sy 'n profeet is: "I am more than a prophet." Want noem jy my skrywer, is ek dan nie meer skilder nie? Noem jy my kunstenaar, is ek dan nie meer akademikus nie?

Wat is die aanwins, en wat die verlies, aan 'n term?

No comments: