Wednesday 17 February 2010

Flavors of Entanglement

Ek is ’n fan van Alanis Morissette (en haar vervaardiger Guy Sigsworth) en besit byna al haar musiek. Vrydagmiddag het ek vir my 2008 album “Flavors of Entanglement” gekoop. Saterdagaand toe sit ek die CD in die speler en luister elke snit aandagtig terwyl ek die lirieke lees. Die album was eintlik duur – byna R170 – maar ’n fees vir my gees. Ek het mos onlangs die ysskaatsvertoning Cinderella on Ice gaan kyk teen R150. Hierdie album was duurder en aansienlik korter, maar steeds vir my ewe verrykend. (Die voordeel van ’n CD bo ’n lewendige vertoning is natuurlik dat jy die CD oor en oor kan geniet.)

Soos met elk van Alanis se albums is daar altyd aspekte waarmee ek kan vereenselwig. Die openingsnit “Citizen of the Planet” resoneer met my huidige ervaring, waar ek ook myself bevind, nie meer as ’n burger van een land nie, maar as ’n tipe veellandige burger. Alanis sing oor haar verlange na tuiswees wat verbreed is. In Korea verlang ek na Suid-Afrika, in Suid-Afrika verlang ek na Korea. “And so,” sing sy ook “the next few years are blurry, the next decade’s a flurry of smells and tastes unknown / Threads sewn straight through this fabric through fields of every color one culture to another.” Daar is nog soveel van die wêreld wat ek te siene wil kry en vreemde aromas wat ek wil ruik en vreemde geure wat ek wil proe.



Die snit “Versions of Violence” spreek ook met my, veral na my onlangse politiese oorloggies. In die lied beskryf sy hoedat geweld op verskeie ander en meer subtiele maniere gepleeg kan word as bloot die fisiese. Dit wys ook die vinger na daardie alternatiewe geweld waaraan ek ook by tye skuldig aan is, soos “Diagnosing, analysing / Unsolicited advice / Explaining and controlling.”

Die lirieke van songs soos “Straightjacket,” “Not As We” en “Giggling Again for no Reason” wat handel oor liefdesverhoudinge en hoe om weer jouself te vind na so ’n verhouding vind ook op eie soortige manier aanklank met my. Verder vind ek ook ’n aanknopingspunt in die slotlied “Incomplete” waarin sy hoop om eendag “relief” te voel, te weet dat sy “arrived” het, “at peace” is, wanneer sy God sal ken, vreesloos sal wees, en altyd outentiek sal optree.

Die snitte is almal uitmuntende verwerkings wat met kragtige harmonieë Alanis se stem met ’n weeldige verskeidenheid egte en sintetiese instrumente weef. Die titel “Flavors of Entanglement” is ’n baie gepaste naam vir die verskeidenheid klanke en emosies wat soos geure in mekaar verstrengel raak.

2 comments:

BoerinBallingskap said...

So word ons maar almal op die ou-end wereldburgers sonder enige gevoel van behoort...ballinge op die blou planeet.

Skryfblok said...

Die laaste paar maande is ek aan die soek vir 'n ander planeet. Ek is besig om moed op te gee met hierdie een.