Wednesday 17 September 2008

Verjaardigwense aan Eva

Vandag was haar verjaarsdag. My vriendin (durf ek sê meisie?), wie ek Eva noem. Sy is nou sowat sewe jaar lank oorlede en die aantal gedigte wat ek al aan haar geskryf het trek seker al by die tientalle. Vanjaar, met haar verjaarsdag, het ek nie iets geskryf nie. Werk en dinge het my (genadiglik) te besig gehou. Die gedig hieronder is verlede jaar geskryf.


Verjaarsdagwense

Díe dag,
vandag,
jou verjaarsdag
het my onverwags betrap

soos die Wederkoms.
Dit was nes in die dae van Noag –
ek het nie gedrink nie,
maar ek het geëet en gedink aan trou.

Soos die Wes-Transvaal se lente –
die takke swel pitswere
skielik (sonder serimonie) bars dit blertse:
semenwit tepelpienk skrotumperse

en dan,
die bloeisels
wat soet parfume poep.

En dan nog skieliker,
met ’n snik en ’n snak,
is dit somer.

Só betrap jou verjaarsdag my
en ek kry toe maar blomme
(nie tulpe nie, ek jou al te veel daarvan gegee):
geel daisies en blou gesiggies en raffialint
en stasioneer dit in ’n fles in my kamer.

En toe bid ek maar vir almal wat vêr is
(maar nie vir jou nie, want gebede aan die dode is kettery).

No comments: