Dis ’n pragtige dag. Na dae van reën skyn die son weer. Dis baie warm, maar daar is ’n briesie. Dis die tipe dag waartydens ’n mens sonlig op jou gesig moet kry; ’n dag wat nie binneshuis gespandeer moet word nie. Nietemin kan ek myself nie genoegsaam opgewonde kry oor iets om êrens heen te gaan nie. Gister het ek die heeldag in Cheonju spandeer: treine gery, lekker kos geëet, ’n bootrit op Korea se grootste dam geneem, gekuier met vriende en vreemdes; ’n heerlike Sabbat geniet.
Vandag is die laaste dag van my werksverantwoordelikhede vir hierdie eerste semester van die jaar. Dis die laaste dag wat ek berykbaar moet wees vir ingeval daar studente is wat kwessies met hulle punte het. Dis dalk die rede hoekom ek nie die oemf het vir uitgaan nie. Dis asof die semester se druk nog oor my hang, die kettings van verantwoordelikheid nog om my enkels gedraai is – losserig, maar nietemin daar.
Ek sal moontlik die heeldag maar voor my rekenaar spandeer. Of my vloere was. Of erger nog, skottelgoed!
More is ’n nuwe dag. More begin my vakansie.
No comments:
Post a Comment