Sunday 18 July 2010

My Gunsteling Skoolboelie

Ek besoek byna nooit op Facebook nie. Ek vermy dit soos ’n aansteeklike siekte. Nietemen, ek het vroeër vandag daar gaan koekeloer opsoek na ’n musiekgroep wat ek in Hong Kong gehoor het. Ek was onsuksesvol om die groep se bladsy op te spoor.

Toe skielik, uit die bloute, wonder ek wat van een ou saam met wie ek op hoërskool was gebeur het. Hy was ’n eerste span rugby speker, ’n uitblinker atleet, en die aantreklikste ou in ons jaargroep sedert standard ses. Hy’t ’n breë glimlag, blou oë en ’n goue blasvel. Ek was absoluut jaloers op hom op skool. Wanneer ek en hy op geleentheid alleen in mekaar se geselskap was, was hy verbaaslik aangenaam, maar sodra ander mense by was, was hy ’n buffel met ’n slegte gesindheid teenoor my. Alhoewel ek dit nie kan onthou nie, is ek amper seker dat hy my met aftakelende taal getuister het, soos “sussie,” “moffie” en so aan. Indien nie hy nie, beslis sy vriende en hy het ongetwyfeld saam gespot en lag.

Hy’t my eenkeer om die nek gegryp in ’n wurggreep en aangehou sê dat ek moet oorgee. Ek het byna flou geraak maar geweier om oor te gee. Ek kon nie terug veg nie want ek was veels swakker as hy, maar ek sou hom nie die satisfaksie gee om oor te gee nie. Een van sy vriende het gegrap en gesê dat hy moet passop, eendag as ons groot is, gaan ek hom terug kry. Daai gedagte het by my vasgesteek en ek dink dit was moontlik een rede hoekom ek met sulke ywer met die krygskunste begin het. Teen matriek toe ek myself ten minste al kon volstaan in ’n skoolbarnie, het hulle belangstelling verloor in my. Ek het nooit kans gehad om hom / hulle terug te kry vir hulle teistering nie.

Hierdie dinge was alles lank vergete, totdat ek nou skielik gewonder het wat van hom geword het. Ek het altyd myself verbeel dat hy na skool as ’n looser sou uitdraai. Ek het gerugte gehoor, van ander mense wat in ons tuisdorp bly dat hy dwelms gebruik en erg gewig opgetel het.

Wel, ek was suksesvol om hom op te spoor op FB. Raai wat?! Hy is nog net so aantreklik soos altyd en het ’n pragtige vrou (hulle was na ’n uitheemse eiland vir hulle wittebrood) en hy is die baas van sy eie grafiese ontwerp besigheid. Grafiese Ontwerp besigheid! So op my agterstoep! (My eerste graad is in Grafiese Ontwerp.) Ek was so telleurgesteld toe ek dit sien. Hy het toe nooit ’n loser uit gedraai nie . . .

Toe my skok oor sy voordurende glorie na ’n paar oomblikke oor is, toe tref die tweede skok my. Dat ek so erg telleurgesteld was dat sy lewe goed uitgedraai het. Watse tipe mens is ek? En het ek regtig sulke wraak gevoelens vir hom geberg deur al hierdie jare – byna 15 jaar!

En raai wat het hy onder sy “Likes and Interests” – Angus Buchan. Dit wil impliseer dat hy ’n goeie mens geraak het – dat hy ’n Christen is en sy held is Angus Buchan – daai Boer-evangelis wat mans help om goeie Christene te wees. Ek was sommer vies toe ek dit sien. Hoe durf hy ’n sukses van sy lewe maak – nou en in die hiernamaals!

Ek lag vir myself en my eie gedagtes terwyl ek hierdie skryf. Ek vermoed ek is nog steeds bietjie jaloers op hom – sy good looks, sy eie besigheid en mooi vrou en wittebrood op ’n eiland! Ek het darem geen meer behoefte om hom en sy maters se knieë te breek nie. ’n Goeie vuishou op sy mooi glimlag sou lekker gewees het, maar selfs dit wil ek nie juis doen nie. Hy is nou ’n broer in Christus, so ek moet hom als vergewe en lief hê. Dit sal seker nie te moeilik wees nie. Niemand het nog ooit gesukkel om hom lief te kry nie . . . en dit is deels die probleem.

My hele antagonisme met die knaap op wie ek so jaloers was as tienerseun was op ’n vreemde manier ’n goeie ding gewees. Dit het my ten dele geïnspireer om offisiëel met ’n krygskuns te begin en sodoende ’n lewenslange passie te ontdek. Ek het intussen verskeie swartgordels en beoefen ’n ryk variteit krygskunste. Lankal doen ek dit nie meer om myself te beskerm teen skoolboelies nie. Nou is dit ’n genotvolle en uitdagende leefwyse. En rakende daardie wurggreep waarin hy my soveel jare terug geklem het: ek het juis 'n paar weke gelede verskeie ontsnaptegnieke aan studente in die krygskunsklub waar ek afrig geleer.

Een “goeie ding” wat ek gesien het terwyl ek op sy Facebook-profiel rond gerkap het, is dat hy ’n moffie-pienk onderbaadjie op sy troue gedra het. ;)

2 comments:

Franco said...

Sanko hierdie artikel het net soveel gesigte opgebring van skoolboelies wat ek gehad het. Dit is nogals moeilik om hulle te vergewe vir wat hulle gedoen het, maar dit is iets wat ons as Christene moet doen.

My probleem op skool was dat ek was 'n rebel in die ander rigting gewees, ek het alles gehaat wat as "cool" beskou was op skool, en die mense het my nogals moeilike tye daaroor gegee. Ek was fisies nooit aangeraak nie want het myself altyd daaruit gepraat (baie gelukkig daarvoor), maar soms wens mens jy kan hulle fisies iets aandoen vir hoe hulle jou behandel het.

Kinderse is wrede goed, mens moet dit altyd onthou as jy eendag een van hulle moet grootmaak!

Maar ja, ons gaan vergewe word soos ons ander mense vergewe, moet dit net altyd onthou ! :)

Vrede

Skryfblok said...

Ja, ek was ook maar soos jy altyd effe stroom op. Is nog steeds so.

Inderdaad -- vergifnis is absoluut kern tot Christenskap.