Sunday 11 July 2010

Ek is wakker en daar is 'n uiltjie in my woonstel

Ek is wakker, maar ek weet nie hoekom nie. Dis na twee in die oggend. Maandagoggend. Ek hoef nie vroeg op te staan nie -- ek hoef geensins op te staan more indien ek nie wil nie. My enigste beplande prioriteit is eers more aand om agtuur. Ek kan dus slaap tot ses uur die middag indien ek sou woul

O ja; daar is iets anders wat ek more moet doen. Ek het 'n uiltjie opgetel. Die dingetjie is nog baie klein en sal beslis deur die katte gevang word indien ek dit op die blad voor my woonstelblok laat bly het. Die probleem met uile is dat hulle die beeld van hulle voerders inprent en die belemmer dan hulle kanse van rehabilitering in die toekoms. Wel dis die een probleem. Die ander probleem vir hierdie spesifieke uiltjie is dat dit deur my "gered" is, want ek het nie kos om vir die dingetjie te voer nie. Ek is grootliks 'n vegetariër. Dis nie dat ek nooit vleis eet nie. Ek eet wel sporadies vleis indien ek 'n ernstige behoefte daaraan het. Maar ek eet dit altyd buite my huis. Ek koop nooit vleis nie. Ek kan nie onthou wanneer die laaste keer was dat ek rou vleis gekoop het en gaargemaak het nie. Dit was jare gelede. Die punt is, daar is geen rou vleis in my huis nie en gevolglik kon ek die uiltjie niks voer nie. Ek het probeer om dit bietjie rou eier te gee maar was onsuksesvol. More gaan ek die uiltjie na 'n veerarts toe neem. Ek kan dit net eenvoudig by hulle aflaai -- die verantwoordelikheid onsermoniëel aan hulle oorhandig. Ek weet nie wat anders om met die gediertetjie aan te vang nie. Om dit hans groot te maak sal wreed wees want dit sal dan nooit gerehabiliteer kan word nie, en ek weet nie hoe lank ek in Korea gaan bly nie. Die verantwoordelikheid van 'n lewetjie moet nie ligtelik opgeneem word nie. Uile is nie goudvisse nie.

Ek's wakker. Ek het twee ure terug 'n bak roomys geëet omdat ek verveeld was. Ek wil nie bed toe gaan nie, want bed toe gaan is vervelig. Ek gaan maar 'n episode van Doctor Who kyk en daarna besluit wat ek dan gaan doen. Miskien is ek moeg teen dan.

'n Dieretuin. Daar is 'n dieretuin by 'n park oppad na die veearts wat ek oorweeg het. Dalk moet ek sommer net by die dieretuin stop en die uiltjie daar aflaai. Hulle sal seker weet wat om daarmee te maak. Maar die dieretuin sal die uil waarskynlik wil aanhou en nie rehabiliteer nie. Maar ek is ook nie so seker van die veearts nie. Veeartse in Korea is gewoonlik verbind aan dierewinkels en in Korea word die aardigste diere verkoop as troeteldiere. Neem ek die uiltjie na die veearts is daar geen waarborg dat die gerehabiliteer gaan word nie -- dit mag dalk as 'n troeteldier verkoop word!

En 'n wildedierhawe kan ek ook nie vind nie. Die Koreaanse Internetsoekenjins is nie uitlandervriendelik nie.

Moes ek die uiltjie maar buite op die sementblad gelos het sodat die katte hom kan vang?

Ek wil nie gaan slaap nie.

No comments: