Tuesday 17 November 2009

Een vrot appel en . . .

Ek het myself vir ’n student vererg vandag. Teen die einde van een van my klasse sê ek aan my klas dat hulle asseblief hoofstuk 12 van die handboek moet lees vir die volgende klas (komende Donderdag) en dat hulle dalk ’n klein toetsie (“quiz”) kan verwag. Een student begin onmiddelik kerm en kla. “We cannot do it because you gave us an essay which is due on Thursday.” Die opdrag het ek verlede Donderdag reeds gegee. Dit beteken dat die studente ’n week kans het om die essay te voltooi – geensins ’n moeilike opdrag nie. Ek verduidelik dit ook so aan die student. “That’s too much. Your class is not the only class in which we get assignments.” Dit is toe dat ek my vererg, alhoewel ek (ekstern) kalm gebly het en net eenvoudig herhaal het dat hulle hoofstuk 12 moet lees vir die volgende klas.

Die student was van die begin van die semester af negatief en bombasties. Sy eerste uitbarsting was reg in die begin van die semester toe hy verneem dat ek nie die gedigte in absolute detail met hulle gaan behandel nie, maar eerder hulle met die nodige instrumente wil toerus sodat hulleself die gedigte kan ontleed. Hierdie student het geensins van die idee gehou nie. Sy weerstand teen onafhanklike denke het my ongelooflik verbaas. Kan om-vir-jouself-te-dink so ’n ongemaklike ding wees? Ek weet binne sy kultuur is groepsdenke baie belangrik en dat individuele denke gevolglik onderspeel word, maar sulke intense weerstand is vir my, om die minste te sê, vreemd.

Omdat hy duidelik nie van my manier van klasgee hou nie is ek te verwagte dat hy slegte dinge aan die einde van die semester tydens die klasevaluering (wat aanlyn gebeur) gaan kwytraak. Dit noodsaak my nou om met die departementshoof oor hierdie student te gaan praat voor die knaap met sy swartsmeerveldtog begin. Studente in Korea is bekend daarvoor dat hulle baie negatiewe evaluerings skryf van dosente wie moeilike klasse aanbied.

Wat verder jammer is, is dat een student se negatiewe houding die hele atmosfeer van die klas besoedel. Dit blyk duidelik belangrik dat ek ’n stokkie voor sy mannewalis gaan moet steek, en hoe gouer hoe beter. Intussen oorweeg ek dat die “quiz” wat baie klein sou gewees het, dalk nadese in ’n ordentlike toets moet ontaard. Hierdie student is die enigste een wat die vorige klastoets gedruip het.

Aai, studente darem. Ondanks sulke negatiewe oomblikke geniet ek steeds my werk.

Van die os op die jas: ek het vandag drie boeke wat ek vanaf Amazon bestel het ontvang. Die boeke is leeswerk vir my PhD navorsing en handel oor die "geskiedenis van die boek," met titels soos An Introduction to Book History, The Book History Reader, en A Companion to the History of the Book. Ek is tans besig om Flatland te lees en sal seker oor ’n dag of twee daarmee klaar wees, waarna ek met die inleidende boek sal begin. Of dalk sal ek eers Robert McKee se Story: Substance, Structure, Style, and the Principles of Screenwriting lees, wat ek ook onlangs bestel het en wat ek nou al vir jare na uitsien om te lees, maar eers onlangs in die hande kon kry.

1 comment:

Franco said...

Jinne, piets hom soos Jan Botha dit sou doen honderd jaar gelede... ;)