Tuesday 9 March 2010

"Die oom langsaan is vermoor"

Plaasmoordmonument in Limpopo.

“Die oom langsaan is vermoor,” sê my broer toe ek nou net met hom oor die foon praat. Onmiddelik dink ek aan hoe onveilig my broer se plot is – geensins ’n fort nie. Dis met lendelam drade omhein. Daar is nie eens ’n slot aan die hek nie. Wat gaan ’n slot inelkgeval tot stand bring? Enige deugniet kan oor die hek, of oor die drade klim. Nie eens te praat van die traliehekke voor die buitedeure nie. Een wel geplaasde skop en die traliehek is uit sy skaniere uit. Die “waghonde” is twee plotbrakke met groot blaf en min byt. Die kans is beter dat hulle die plaasmoordenaars met waaisterte gaan groet as enige vertoning van intimidasie. Hulle gaan dit beslis nie regkry om gedetermineerde inbrekers te verjaag nie. Daar is min, buiten vir die Here se genade, wat staan tussen potensieële verkragters en vermoorders, en my arme broer en sy gesin. En my teologie is dit eens dat die Here nie mense se willens verander nie; ons het almal vryheid van keuse – ’n moordernaar wat daarop uit is om dood te maak, staan skuldig voor God, maar bly steeds vry om sy euwel daad te doen.

Ek is nie in die buiteland omdat ek bang is vir die geweldmisdaad in Suid-Afrika nie. Dit sou niemand verbaas het indien ek wel so ’n verskoning gebruik het nie. Ek het groot geword met geweld as my buurman. Ek het op ’n plaas by ’n welbekende lokasie groot geword tydens die groot onluste van die 80s en 90s. Ek het gesien hoe mense op ’n man afstorm en met pangas kap. Ek het gehoor hoe ’n vrou skree wat genacklace word. Ek het beleef hoe voel dit as jou kar met klippe gestook word. Alhoewel my persoon nog nooit deur geweldmisdaad aangetas is nie – ek was al baie die slagoffer van inbraak en diefstal – het ek ’n pa wat deur misdadigers tydens ’n gewapende roof geskiet is. So ek weet van geweldsmisdaad en kan maklik daardie verskoning gebruik indien ek sou wou. Dis dalk omdat ek so gewoond was aan misdaad op so ’n jong ouderdom dat dit nie vir my genoegsaam bang gemaak het sodat ek voel ek moet die land uit weens dit onveilig is nie. Ek is in die buiteland weens ander redes.

Hoe ookal, nou is ek hier; in, vir alle praktiese redes, ’n baie veilige land. Dis hierdie veiligheid wat ek beleef, gejukstaponeer met my geliefdes in Suid-Afrika se onveiligheid, wat my nogals ontstel.

Die oom langsaan is vermoor. Dis die oom op die plot met die stewige heinings en die groot waghonde.

No comments: