Dit was onlangs my ma se verjaarsdag. Sy sou 68 gewees het. Ek dink dis nou al seker twaalf jaar sedert haar vernederde afsterwe. Ek dink selde aan my ma, maar elke jaar rondom hierdie tyd van haar verjaarsdag (dis ook die tyd van my ouers se huweliksherdenking) kan ek nie help om aan haar te dink nie. Ek onderdruk gewoonlik my gedagtes omdat die herinneringe van die laaste paar jaar van haar lewe so pynlik is. Haar siekte het 'n eens dinamiese vrou in 'n verknogte, ou, totaal afhanklike, bondeltjie verander.
Hoe ouer 'n mens word en hoe meer jy jouself leer ken, hoe duideliker raak 'n mens se bewustheid van die genetiese invloede van jou ouers. Met die ouderdom saam herken 'n mens eienskappe van jou ouers in jouself. My ma het byvoorbeeld 'n paar klein kersiehemangiomas gehad. 'n Kersiehemangioma is basies 'n bondeltjie kapilêre aartjies wat vlak onder die vel lê en dus soos 'n kersierooi sproetjie lyk. Dis hoe my ma dit aan my verduidelik het. Dit was die eerste keer wat ek die woord "kapilêre" gehoor het, so sy moes dit ook aan my verduidelik. Kersiehemangiomas is heeltemal onskadelik en indien dit nie oor 'n groot oppervlakte versprei is nie, is dit nie estetiesonaangenaam nie. Verbaas let ek onlangs dat ek ook 'n paar sulke bloedrooi sproeitjies op my liggaam het, net soos wat my ma gehad het, en op relatief dieselfde plekke. Ek neem ook redelik gereeld my bloeddruk en polsslag en dit is heel duidelik dat ek net soos my ma 'n inherente lae bloeddruk het. Op die oogaf is dit ook natuurlik ontwykbaar dat my bos dik rooi hare hoofsaaklik van my moederskant af is. My ma het rooi gehad en baie van haar broers en susters het ook rooi hare. Vroeër vanjaar toe ek in Pretoria vir familie gaan kuier het, het van my tannies vir my gesê, die oomblik toe hulle my sien, "Ja, jy is Rita se kind." My gesig, veral my mond en glimlag, verklap dit. Ek is Rita se kind.
Maar ek is dooie Rita se kind. Ek is Rita se weeskind.
Ek is nie die enigste van die kroos wat in die buiteland lewe nie. Tog wonder ek hoe my ma sou gevoel het oor my lewe vêr oor die waters in 'n vreemde land. Ek wonder of dit my ma sou gepla het dat ek nou grootliks in Engels, grootliks in die taal van my Skotse oupa aan vaderskant funksioneer, eerder as die Afrikaanse (Frans-Nederlandse) afstammeling waaraan sy behoort het. Ek wonder wat sy sou gesê het omtrent die feit dat ek 'n lewe daarvan maak om Engelse poësie te onderrig, eerder as Afrikaanse poësie wat ek so graag skryf; of sy sou dink dat ek 'n moedertaalverraaier is omdat ek 'n so verengels het. Dit was altyd duidelik dat ek nie 'n Afrikaner in murg-en-been is nie, maar ook was ek nie 'n Engelsman nie (ondanks my doopsname en van uitsluitelik Engels is). Tot vandag toe nog pas ek nie gemaklik in een van die twee wit Suid-Afrikanerposhokkies nie. I'm neither English enough, nog Afrikaans genoeg.
Dit sou verlede Vrydag haar verjaarsdag gewees het en as sy nog gelewe het sou ek haar ge-Skype het. Teen die tyd sou sy hopenlik al geleer het hoe om die basiese funksies van 'n rekenaar te kan gebruik. Toe sy nog gelewe het, was ek te kort-van-draad om haar touwys te maak. Ek kan nou probeer skuldig voel omdat ek toe nie meer geduld gehad het nie, maar dis 'n nuttelose breinoefening. "Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind; maar nou dat ek 'n man is, het ek die dinge van 'n kind afgelê," (I Korintiërs 13:11). Spyt is nie die emosie wat my beetkry nie; eerder jammerte wanneer ek oor my moeder dink. Jammerte oor hoe gru ons huisgesin se lot uitgedraai het. Die noodlot het ons familie 'n slegte stel kaarte gegee. Soms wonder ek steeds hoe anders dit sou gewees het as ten minste een van ons ouers nog gesond en lewendig was. Ook hierdie breinoefeninge is nutteloos. "Wat as dinge anders was . . ." Ek laat myself nie toe om daardie depressiewekkende speletjie te speel nie. Ook vermy ek om te vra "Hoekom moes dit met ons gebeur het?" of "Hoekom het ander soveel geluk en ons soveel ongeluk?" Niks nuttigs kom uit hierdie tipe vrae nie.
Nogtans is dit vir my hartseer dat my gedagtes omtrent my ma so geklad is met negatiewe lewensherinneringe. Sodra ek aan haar dink, dink ek aan haar aftakelende siekte en al die ander familietragedies: my pa wat in die kop geskiet is tydens 'n roofaanval, die gevolglike bankrotskap, my jonger broer wat feitlik wees moes grootword. Ek wens dat ek aan my ma kan dink en net die goed kan onthou. Die wonderlike, opbouende, talentvolle, suksesvolle, selfversekerde, smaakvolle, gelowige, opregte, mooi vrou wat sy was. "Rita was die mooiste een van ons," sê Tannie Rina, my ma se jonger suster, toe ek daar gekuier het. "Ons almal dink so. Sy was die mooiste."
No comments:
Post a Comment