Ek werk by 'n Christenuniversiteit. Daar is baie godsdiensgefundeerde universiteite in Korea. Die feit dat my universiteit 'n Christenuniversiteit is, het sekere implikasies. Onder andere word daar van my verwag om my klasse met gebed te open. Baie van die studente is nie protestants nie (in Korea word daar—tereg—onderskeid getref tussen protestantse Christenne en Katolieke Christenne). Buiten vir 'n paar Katolieke Christene in my klasse, is daar ook Boedhiste en ateïste. Daar word van die studente verwag om respekvol te wees tydens die opening van elke klas; gelyktydig probeer ek ook hulle resprekteer deur nie onnodige lang of dogmatiese gebede te bid nie. My tipiese gebed lui iets soos volg:
“Dear God, Thank you for loving us. Please be with us during this class. Please also be with our families and friends. In Jesus' name—Amen.” Soms maak ek my gebed telegrammaties kort: “Dear God, Thank you. Amen.” Die studente lag gewoonlik hiervoor. Ander kere bid ek langer, veral as daar spesifieke behoefte is; byvoorbeeld wanneer die studente 'n toets gaan skryf, of 'n voordrag moet lewer, of moeg en/of honger lyk—dan bid ek vir kalmte, fokus, krag, uithouvermoeë of watookal die situasie vereis. Ek probeer om nie tot 'n rympie te verval nie en die gebede altyd opreg en relevant te hou.
Maar dis nie waaroor ek eintlik in hierdie inskrywing wil praat nie. Ek wil eintlik praat oor iets wat verlede week met my gebeur het. Ek's nie een van daardie Christene wat alewig die stem van God hoor nie. Ek kan nie met oortuiging sê dat ek al ooit die Stem van God as 'n duidelike vibrasie van klankgolwe wat bons teen my oordrom ervaar het soos party ander Christenne blykbaar gereeld beleef nie. Die naaste wat ek daaraan gehad is wat ek bloot “indrukke” sal noem. Ek het die “indruk” gekry dat die Heilige Gees iets vir my probeer kommunikeer. Selfs hierdie “indrukke” is aansienlik minder as wat party mense glo het, so wanneer ek wel sulke “indrukke” kry probeer ek om daarna te luister. Ek wens ek kan sê dat ek meer gehoorsaam daaraan is, maar ek weet dat dit nie altyd my reaksie is nie.
In elkgeval, nou die dag, terwyl ek my gebedjie aan die begin van 'n klas sê, toe kry ek 'n “indruk.” Die indruk was iets aan die hand van: “Hoekom bid jy altyd vir julle familie en vriende? Dis maklik. Jesus sê dat jy moet ook vir jou vyande bid.”
So deesdae probeer ek ook om vir my en my studente se vyande te bid. Ek moet eerlik wees en sê dit kom nie natuurlik nie. Eerstens omdat ek nie juis vyande het nie. Daar is nie spesifieke mense met wie ek in vyandigheid is nie en nagte oor wakker lê nie. Daar's dalk 'n klompie mense waaroor ek nou nie juis gaande is nie, en dan is daar die politici vir wie ek min ooghare het, so ek gooi hulle maar almal binne die “vyande”-kategorie. Oor die algemeen kom ek redelik gemaklik oor die weg met meeste mense. Ek is redelik “laid back.” Maar dalk is die gebed nie vir my nie. Dalk is dit vir my studente en hulle verhoudinge, hulle familie en vriende en vyande. Ek weet nie presies hoe my gebed insae het in iemand anders se vyandige-relasies nie. Ondanks, ek probeer nou maar ook vir ons vyande bid.
Jesus se uitdaging—nee, opdrag—om vir jou vyande te bid, om jou vyande selfs lief te hê, oortuig my van die bonatuurlike aard van hierdie religie. Dit is 'n absoluut onnatuurlike ding om te doen. Dit is daarom 'n bonatuurlike vereiste—iets heeltemal buite die natuurlike aard van die mens. Dis 'n goddelike karaktereienskap, sulke onvoorwaardelike liefde. Daarom is dit ook slegs God wat ons met daardie vermoeë kan bemagtig. Die dan, dat ons daarvoor moet bid.
No comments:
Post a Comment