Monday 13 September 2010

Sondagkursusse

So paar weke gelede het ek twee Sondae in 'n ry die heeldag, vandaf 8:30 tot 17:30, deur gebring in 'n noodhulpkursus. Gister het ek my twee amptelike sertifikate gekry, een vir "First Aid" en die ander vir "CPR Course for Adult/Child/Infant," uitgereik deur Korea se Red Cross. Ek het op laerskool laas 'n noodhulpkursus gedoen en het gedink dat dit hoogtyd is om weer my vaardighede op te skerp.

'n Daaropvolgende Sondag het ek 'n inleidende kursus tot Hapkido gereël, wat 'n 5de Dan vriend van my aangebied het. Dit was 'n goeie werkswinkel en lekker om weer die basiese beginsels van Hapkido te verfris. In 'n onlangse skrywe op by Soo Shim Kwan-blog het ek terloops daarna verwys, maar het nog nie 'n kans gehad om werklik daaroor ter rapporteer nie. Ek het dele van die seminaar op video vasgelê en hoop om dit eventueel te redigeer en êrens beskikbaar te maak -- dalk op YouTube.

Verlede Sondag (gister) het ek die eerste deel van 'n skubaduikkursus gaan bywoon. Gedurende volgende week is Korea se Chuseok-vakansie. Chuseok is Korea se dankseggingsdag waartydens mense terugkeer na hulle tuisdorpe om daar tyd saam met die familie deur te bring en ere te bring aan hulle voorouers. Aangesien dit vir my byna 'n hele week van vakansie inhou het ek besluit om na Jeju-eiland, Korea se grootste eiland te gaan. Daar wil ek graag gaan skubaduik, en dus dan die rede vir die "Open Water Course" wat ek gister bygewoon het. Ons het in 'n swembad geoefen. Dit was lekker om myself soos 'n seeleeu te gedra. Volgende week sal ek die res van die kursus by Jeju-eiland gaan voltooi. Ek moet sê dat ek my tyd onder die water baie geniet het en kan byna nie wag om dit in die ope see te gaan doen.

Ek probeer my Sondae vul met verrykende ervaringe. Sabbatte spandeer ek gewoonlik rustig, maar Sondae is 'n aktiewe rekreasiedag vir my. Ten minste daardie Sondae waartydens ek die vorige aand nie te laat opgebly het nie. Twee Saterdagaande terug was so 'n aand. Ek het uitegegaan om 'n vriend te ontmoet wat oppad landuit was. Ons het so lekker gekuier dat ek my moltreinrit verpas het en het toe maar die hele aand opgebly en gewag vir die moltrein om weer die volgende oggend te begin hardloop rondom vyfuur die oggend. Sulke Sondae doen ek nie veel nie. Slaap maar laat en gaan kyk dalk 'n fliek in die agtermiddag.

No comments: