Dit wil blyk dat my poësie klasse 'n reputasie ontwikkel het, dat dit te moeilik is. Die eerste jaar wat ek 19de eeuse Romantiese poësie gegee het, was my klas 60 studente groot. Die volgende jaar het die getal geval na sowat 25 studente. Die eerste jaar wat ek 19de en 20ste eeuse Amerikaanse poësie aangebied het was daar sowat 20 studente in die klas. Vanjaar het ek 10 studente geregistreer, maar slegs sewe het vandag opgedaag. Indien daar teen Vrydag minder as sewe studente is, gaan die klas gekanselleer word. Indien daar minder as twaalf studente is, word my salaris vir daardie klas negatief aangepas. Die "pay cut" is nie wat my ontstel nie, maar indien die klas gekanselleer word gaan ek regtig telleurgestel wees. Die letterkunde klasse, veral die poësie klasse, is wat my regtig opgewonde maak as 'n Engelse lektor. Dit is die klasse wat ek die meeste geniet en wat vir my persoonlik van groot waarde is. Die letterkunde klasse is wat maak dat ek eerder by hierdie universiteit werk as by een van die groter universiteite in Korea waar ek slegs taalvakke sal aanbied. (Gewoonlik word letterkunde vakke in Korea deur Koreaanse dosente aangebied, maar by my universiteit word die "foreign teachers" gebruik nie net vir taalvakke nie, maar ook vir akademiese geletterdheid en letterkunde.)
Van die kommentaar wat ek in die verlede gekry het, is dat my klasse vereis van die studente om te dink. O wee! Tog net nie dit nie! Inderdaad, ek verwag van hulle om te dink . . . Party studente het gekla hoedat hulle nie gewoond is om vir hulleself te dink nie; in die Koreaanse opvoedingstelsel word memorisering, nie kritiese denke nie, hoog geag. 'n Poësie klas wat gedurig van studente verwag om die teks te interpreteer en motiverings te verskaf vir hulle opinies is baie uitdagend -- en blykbaar vir party te oorweldigend. Maar daar was ook party studente wat hierdie selfde argument geneem het, en dit nie as 'n onoorkombare berg sien nie; maar 'n geleentheid vir groei. Een van hulle het op 'n keer vir my 'n wonderlike kompliment gegee. Hierdie is 'n handjie vol, maar waardevolle studente. En dit is vir hierdie groepie vir wie ek hierdie klas sal gee, al is daar net sewe van hulle.
Vandag het ons gesels oor wat poësie is en waarom dit van waarde is om poësie te leer. Beide is waardevolle vrae wat ek dalk in 'n essay wil omsit, miskien vir pypaanlyn of een of ander, ander publikasie.
No comments:
Post a Comment