Sunday 15 August 2010

Oppad see toe

Ek sit by die busstasie en wag vir my bus wat oor 30 minute vertrek. Ek was laat vir die vorige bus wat sewe uur vertrek het en het toe maar 'n fliek (Toy Story 3) gaan kyk om die tyd verby te kry.


Dit was my plan om hierdie week paragliding te gaan doen, maar dinge het nie so uitgewerk nie. Daar is twee hoofredes hoekom ek van plan verander het. Eerstens, ek het uitgevind van 'n noodhulpkursus wat vandag en volgende Sondag op kampus aangebied word. Noodhulp is 'n handige vaardigheid en is ook noodsaaklik vir krygskunsinstrukteurs en aangesien dit op kampus waar ek bly aangebied word het ek besluit om daarvoor in te skryf. Dit bots egter met die paragliding wat gewoonlik oor naweke geskiet -- dis die tweede rede. Vir paragliding moet ek veral Sondae af he.

So toe besluit ek sommer so deur die loop van die dag dat ek na vandag se noodhulpkursus my goed gaan pak en 'n bus gaan neem see toe. My destinasie is Pohang, 'n dorp aan die Ooskus van Korea. Die oossee is Korea se mooi see met blou water en sandstrande; die wessee is grys en modderig. Pohang is nie ver van die Seokguramgrotto wat ek graag wil gaan besoek nie; ek sal maklik 'n bus vanaf Pohang na die Gyeongju-stad kan neem. My plan is om vanaand in Pohang deur te bring, die dag daar by die naaste swemstrand te geniet en dan more aand of vroeg die volgende oggend na Gyeongju te gaan en vandaar die grotto te gaan besoek deur die loop van Dinsdag. Ek sal nog dink wat ek Woensdag gaan doen. In elkgeval, ek moet weer Woensdagaand terug kom omdat ek Donderdag 'n ander afspraak het.

Donderdag gaan die hoofkrygskunsklub waarby ek betrokke is na Ocean World vir 'n dag uitstappie en die aand hou ons 'n afskeidspartytjie vir een van die studente wat 'n paar dae daarna Amerika toe gaan om sy meestersgraad daar voort te sit. Dis nogals jammer dat hy weggaan; ons het almal by geheg aan hom geraak. Sy naam is Chanyang en buiten vir Koreaans en Engels praat hy ook Frans, Spaans en Duits en was hy dus 'n integrale deel van ons internasionale gemeenskap by die dojang.

Ek sien uit na my Pohang / Seokguram trippietjie. Ek wou nou al vir 'n geruime tyd die Seokguramgrotto gaan besoek en as ek dit nie nou binnekort doen nie is dit hoogs onwaarskynlik dat dit sal gebeur eens die semester begin het. Dit was eintlik my plan om verlede week al te gegaan het, kort nadat ek van Thailand af terug gekom het, maar sedert my terugkeer het elke dag gereen. Die weerdiens voorspel minder reen die volgende paar dae.

Ek sal weer skryf indien ek toegang tot 'n PC-bang (Koreaans vir internetkafee) kan kry.

No comments: