Wednesday 9 June 2010

"Vuurvors" -- 'n fantasie-avontuurverhaal


Hier is die openingstoneel vir 'n fantasieverhaal waaraan ek nou al 'n geruime tyd skryf. Met geruime tyd bedoel ek 'n jaar of twee. Om eerlik te wees, die verhaal vorder nie juis nie. Daar is tans sowat ses bladsye en 'n handjie vol tonele in my kop wat nog moet lewe kry. Ongelukkig is daar nog geen duidelike plan / plot nie. Net flitse in my kop en ek weet nie regtig hoe en waar hulle in pas nie. 'n Verdere probleem is dat ek seker 'n dekade laas aan fantasie gewerk het. Verder weet ek ook nog nie wie my teiken mark is nie. Volwasse fantasielesers? Is daar ooit so iets in Afrikaans? Tiener fantasielesers? Moet ek die verhaal dalk eerder in Engels aanpak? Die storie is moontlik 'n "lost case." Laat weet maar indien jy dink dat dit die moeite werd is om daarmee aan te gaan.

Die grys oggend stoom. Daar is nie ’n wind nie, nogtans zoem ’n dreuning in die lug asof ’n storm êrens anderkant die horison aan die kom is. Oor ’n grasvlakte, wat soos ’n geelpels teen die oggendkilte gepof staan, kom ’n perd en ruiter volspoed gejaag. Die perd is natgesweet en skuim in die flanke, sy neusgate groot. Die ruiter lê laag teen die rooibruin skof. Oor die ruiter se skouers is ’n beervel stuif getrek teen die koue.

Die ruiter kyk terug in die rigting van die dreuning. Agter die kim het intussen ’n grys wolkie opgekom. Net onder die wolkie begin die oggendson boggel. Die ruiter por die perd nog vinniger aan. Die grysvlek op die horison raak groter en lê soos ‘n serp om die son. Met elke omkyk is daar meer daarvan.

“Ja! jaa!” gil die ruiter en hits met die teuls. 

Uiteindelik is die gezoem nie meer net ’n onherkenbare maling van klanke nie. Sekere geluide kan geïdentifiseer word. Daar is die druis van baie vlerke soos met ’n groot swerm voëls – ’n gedruis soos ’n reuse waterval. Dan is daar ’n kakafoniese koor van skril fluite gemeng met die lae vibrasies van diep gromme. Die ruiter herken ’n tipe patroon in die klanke. Van die fluite roep; ander fluite antwoord. Daar is geen twyfel nie – die gromme kommunikeer.

Wanneer die ruiter weer oor sy skouer loer is die swerm drake herkenbaar. Die wesens lyk nog klein weens die afstand, maar hy kan hulle vorm duidelik uitmaak – afgeëts soos motte voor ’n lantern: die wye vlerke wat skielik op lig en dan met harde slae die akkedislywe vorentoe beur; die lang gansnekke; die sterte lyk na vlieënde slange.

Skielik gly ’n dowwe skaduwee bo-oor die ruiter. Met wydgespande vlerke gly ’n draak voor hom verby, honderde meters vooruit. Die reptiel klap twee, drie-keer vir hoogte, tilt sy gewig en tol moeiteloos om die punt van ‘n vlerk sodat hy die ruiter nou van vooraf aanstorm.

Die draak duik vorentoe, span meteens sy vlerke terug en vang volumes lug daarin. Die gevleulde reptiel kom oombliklik vertikaal orent. Die nek teur terug soos dit longe vol lug suig. Dan, asof dit hoes, spoeg die draak ’n straal vuur.

Die perd koes na links, die voorwaarste momentum is te veel en dit tuimel grond toe. Daar is ’n harwar van vaal lug, gras, vaal lug, gras, vaal lug, gras en uiteindelik lê die ruiter ongemaklik op sy maag – die beervel eenkant. Vir eers wil hy net lê en gewoond raak aan die skietpyne deur sy lyf, maar die aardige geneul van sy perd trek sy aandag. Hy dwing homself orent. Agter hom is die grasveld aan die brand. Rook dans in slierte hemeltoe. Op ’n afstand, skuins langs hom, het die draak geland. Met een klou trap dit die perd sonder moeite teen die grond vas. Die reuse bek sak soos ’n aasvoël op die prooi neer. Die draak skeur die agterste kwart van die perd moeiteloos los, gooi die stuk vleis effens die lug op, vang dit met ’n hap en sluk dit weg.

Die ruiter besef dat die draak se aandag slegs vir ’n kort rukkie besig sal bly met die perd en die res van die swerm drake is reeds oorverdowend naby. Daar is nie tyd om sentimenteel te raak oor die vos wat sy vriend was sedert die begin van sy opgelêde taak nie.

Hy kom vinnig op sy voete. Sy donkerbruin toga is nat van die dou op die gras en klad teen sy lyf. Die toga na-aap die man se geoefende lyf. Sy bou is gespierd maar lenig.

Uit die leersakkie wat aan sy gordel hang neem hy ’n gladde klippie en hou dit voor hom uit in ’n oopgestrekte palm. Hy skree ’n woord wat verdwyn in die galm van die swerm wat al aansienlik nader is. Die steun blaak geel; aanvanklik flou maar met elke herhaling van die inkantasie gloei dit helderder.

Die flitsende lig trek die vretende draak se aandag. Soos ’n kat sit dit terug op sy hurke, spring meteens en land met reuse talone op die plek waar die Magiër ’n oomblik terug gestaan het. Die Magiër het verdwyn; slegs ’n die beervel en ’n bietjie oorskot van ’n perd getuig dat daar onlangs iets anders as die vlieënde reptiele was. 

Die swerm drake is intussen oorhoofs en lyk na ’n wolkbank gigantiese vlermuise.

*

Die Magiër verskyn elders. Hy val op sy knieë en huig na sy asem asof sy wind uitgeslaan is. Sy geroggel eggo deur die groot vertrek. Uit rye klein venstertjies hoog teen die dak spits stawe oggendlig en brand ’n traliewerk van kolle teen die teenoorgestelde muur. Dis ’n troonkamer.

3 comments:

Unknown said...

Hi

My seuntjie nou net 7 het die prentjie in kleur en swart en wit geprint en teen sy kas geplak. Hy wil die res van die storie hoor.
So jy beter spark, want my pa (nou al 11 jaar oorlede) het my lewe lank my opstelle op skool vir my geskryf, so ek kan nie eers n poging aanwend om jou storie vir hom klaar te maak nie. ONS wag in spanning

Unknown said...

Hi

My seuntjie nou net 7 het die prentjie in swart en wit en kleur teen sy kas geplak, hy wil die res van die storie hoor en aangesien my pa (nou al 11 jaar oorlede) al my opstelle tot en met matriek vir my geskryf het kan ek nie eers n poging aanwend om die storie klaar te maak nie, so jy beter spark en die res van die storie vir my stuur. Baie dankie ons wag in spannig. Saarkie en DEWALD (7 jaar)

Skryfblok said...

Liewe Dewald.

Ek sal kyk wat ek kan doen om bietjie die storie verder te skryf. Ek is self baie nuuskurig oor wat die Magiër in 'n troonkamer soek, en waarheen die swermdrake oppad is. Dis nogals jammer oor sy perd, ne? Boonop weet ons nog niks an die Magiër se missie nie.

Saarkie, kom loer maar weer oor 'n rukkie op die blog rond -- dalk skryf ek iets by.