Tuesday 13 April 2010

"Sexual advances" is nie 'n rede vir pangamoord nie

Ek het vir eers probeer om nie hieroor te skryf nie. Ten minste nie op my blog nie. Ek het wel met my familie en vriende vir wie ek sporadies ’n lang brief skryf om oor my doen en late te vertel bietjie oor die ET-moord en geassosieerde politiek gesels.

Buiten dat ek genoem het dat “[Eugene Terblanche’s] death is certainly disconcerting as it is loaded with symbolic significance,” het ek nie veel gehad om by die diskoers te voeg nie. Wat is daar te sê? Ek is nog nie oortuig dat hy vermoor is direk as gevolg van Malema se uitsprake nie. Sy moord lyk nie juis verskillend van al die ander wrede plaasmoordaanvalle nie.

Die moord word onnodig gepolitiseerd, maar dit is seker onvermydelik weens wie ET was. Maar nou is daar die nuwe neiging om ET se moord te regverdig deur hom “homoseksueel” te etiketeer. Goeie genugtig! Watse boodskap probeer die media stuur? Dis okay om iemand brutaal te vermoor as hulle homoseksuele rasiste is? Of gay-boere kan maar met pangas opgekap word? Ek weet nie of een van hierdie aantuigings waar is nie. Dat ET vroeër ’n rassis was, weet ons gewis; maar na sy tronkstraf waartydens hy tot bekering gekom het is daar, sover ek bewus is, geen duidelike rasistiese uitlatings deur ET in die media gemaak nie. Dat sy bekering opreg was het ek geen twyfel nie. Mense wat baie na aan my is en wat skakels het met die persoon wie vir ET Bybelstudies in die tronk aangebied het, het vir ET en sy vrou op hulle plaas gaan besoek, en my daaromtrent vertel. Sy bekering in die tronk was opreg. Wat ná die tyd gebeur het kan ek nie sê nie, en durf ook geen oordeel uit spreek oor enige iemand se saligheid nie.

Ek weet dit is moeilik om te glo dat iemand wat eens ’n erge rasis was kan verander, maar dit is geensins onmoontlik nie. Ek praat uit eie ondervinding. Ek was as kind ’n rasis. Ek het selfs eenkeer ’n AWB-vergadering gaan by woon en na ’n ET-toespraak geluister! Gelukkig het ek tot beter insigte gekom en het die Heilige Gees my sienswyse verander. (Ja daar was ’n proses tot my ontwakening, maar op die ou einde is dit slegs God wat sulke haat soos wat ek gehad het, en steeds veronderstel is om te hê na wat met ons plaas en my pa gebeur het, te kan wegneem.)

News24 berig dat ET se moord moontlik gevolg het nadat hy “a sexual advance” tot een van sy moordernaars gemaak het. “Two South African farm workers accused of murdering supremacist Eugene Terre'Blanche are to argue they acted in self defence after he made homosexual advances, a report said on Sunday,” so berig ’n ander artikel. Selfs al het hy so iets gedoen—dit moet nog bevestig word—is dit geen rede om hom met ’n panga dood te kap nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, daar is min goed wat my so ontstoke kan maak as die molestering van kinders (die een aanvaller is 15 jaar oud). Daar is geen twyfel dat molesteerders straf verdien nie; maar om met pangas opgekap te word is nie ’n straf wat die misdaad regverdig nie. ’n Aanklag by die polisie en verdere tronkstraf indien skuldig bevind is die tipiese proses in ’n beskaafde samelewing. Volgens Suid-Afrikaanse Wet moet die selfverdedigingsreaksie die aanvaller se vlak van geweld dienooreenkomstig pas. As iemand jou stamp, mag jy nie sommer sy knieg met ’n pyp afslaan nie. As iemand jou eenmalig met die vuisslaan, mag jy nie jou geweer uitpluk en hom skiet nie. Om iemand dood te maak vir selfverdediging moet jou eie lewe in duidelike gevaar wees. Weereens, “a sexual advance,” nog ’n loongeskil, regverdig moord.Enige moord. Selfs die moord van ’n hipotetiese verregse homoseksueel wat sexual advances tot ’n tiener seun maak. So ’n persoon behoort gestraf te word ja, maar nie vermoor te word nie; nog minder brutaal gemartel en vermoor te word nie.

Boer in Ballingskap het ’n peinsende repliek geskryf op Max du Preez se stuk waarin hy sy reaksie teenoor die nuwe opvlamming van rasisme onder witmense uitspreek. Indien ek tyd het sal ek dalk later ook my vyfsent in die koffer hieroor wil gooi.

2 comments:

BoerinBallingskap said...

Ek stem volkome saam. Ons kan nie moord en die neem van menselewens in SA so realtiveer nie. Menselewens is kosbaar. Alle menselewens.

Skryfblok said...

Inderdaad.