Monday, 26 April 2010

'n Moeilike ding: skerm & kritiek ('n Koreaanse gevallestudie)

Verlede week het ek 'n moeilike ding gedoen. Ek het gedwonge gevoel om aan my instrukteur te noem dat ek nie heeltemal oortuig is dat een van sy assistente afrigters bekwaan is om 'n sekere klas afterig nie. "He gets hurt easily," het ek as motivering bygevoeg.

Ons krygskunsskool begin vanaand met 'n nuwe klas (elke Maandag-, Woensdag-, en Vrydagaand). Dit is 'n klas in staande skerm ("stand-up fighting"), gebasseer op skopboks, Muay Thai, Taekwon-Do, en boks. Die klasse gaan dis fokus op skerm ("sparring"). Die probleem is egter dat ek nie heeltemal seker is dat die bepaalde afrigter wat hierdie klasse gaan aanbied die hardheid het wat daarvoor nodig is nie. Met "hardheid" bedoel ek, dat hy hard getref kan word, dit van hom kan afskud en met 'n koelkop, sonder om sy humeur te verloor, kan aangaan om sy studente af te rig nie. Wanneer jy, as instrukteur, studente afrig gebeur dit dat die student soms met 'n goeie skoot deurkom en jou onverwags, en baie hard, tref. (Beginners het min selfbeheursing, so hulle kan nie altyd die krag van hulle tegnieke tem nie.)

Ek maak hierdie aantuiging teen die afrigter omdat ek al twee keer met hom geskerm het en hom seer gemaak het. Nie aspris nie; dit was bloot tegnieke wat in die hitte van 'n dinamiese skerm goed geland het. Een van die kere was meer spesifiek sy eie fout waartydens hy in my tegniek in gehardloop het. Elke keer, in my opinie, het sy reaksie getuig dat hy nie hard genoeg is nie. Om meer spesifiek te wees, hy kon omtrent nie met die klas verder aangaan nie. Nou wel, as jy 'n klas in skerm gaan afrig moet jy die kastyding kan verwerk en aangaan. Ek onthou eenkeer toe ek aan 'n toernooi deelgeneem het, het my opponent my in die keel geskop. Dit was skokkend en ek wou vir 'n wyle stop net om asem te skep. My eie afrigter was op daardie oomblik die skeidsregter. Hy het eenvoudig vir my gevra: "Is jy dood?" Toe ek "nee" sê, was sy reaksie, ". . . dan gaan aan," en het hy onmiddelik die geveg voortgesit. Hierdie ervaring was vir my 'n waardevolle les. 'n Les wat nodig is vir enige afrigter was skerm wil afrig.

Die rede hoekom dit vir my moeilik was om vir my instrukteur te sê dat ek nie seker is of die afrigter in staat is om daardie klas aan te bied nie, is tweedelig. Eerstens omdat dit in die Koreaanse kultuur 'n belediging kan wees teenoor die instrukteur. Dit is sy topstudent, wat hyself afgerig het, wie se kwalifikasie ek in twyfel trek. By implikasie betwyfel ek nie net die student nie, maar ook sy afrigter; naamlik, my instrukteur. Tweedens, betwyfel ek my afrigter se oordeel. In Korea is "saving face" baie belangrik en daarom sê 'n mens nie sommer vir iemand in hulle gesig dat hulle verkeerd is nie -- veral nie iemand wat jou senior is nie.

My instrukteur het dit gelukkig nie persoonlik opgeneem nie, en toe ek vir hom byvoeg dat die afrigter "gets hurt easily" het hy bloot begin lag, en gesê dat hy besig is om met hom te werk, en hom kweek vir daardie rol. Ek is bly dat ek en hy so 'n oop verhouding kan hê. Alhoewel hy tienjaar ouer is as ek en my instrukteur is, en ek al die nodige respekvorme teenoor hom handhaaf, stel hy my steeds aan mense voor as sy 친구 (gelyke vriend). In Korea kan iemand slegs jou 친구 wees indien die persoon van jou eie portuur is, menende jou eie ouderdom (let wel, nie ouderdomsgroep nie, maar in dieselfde jaar as jy gebore) en gewoonlik ook sosiale vlak.

Die skermklasse begin vanaand. Ek gaan slegs na hierdie krygskunsskool op Dinsdag- en Donderdagaande, so ek sal dit nie kan bywoon nie.

No comments: