Sunday 2 August 2009

Ek hoop ek maak dit tot by my bed...

Vrydagaand het ek redelik vroeg gaan slaap, maar Saterdagoggend kon ek net nie opkom nie. Ek het uiteindelik teen 11:00 uit die bed gerol. Aangesien ek nog hierdie hele vakansie laat slaap, het ek geen onraad vermoed nie. Nietemin, die hele Saterdag was ek onwel en ondanks my laatslaap vreemderig moeg. Ek het geen apteit gehad nie en het vir middag ete ’n baie kleinporsie geëet. Vir aandete het ek seker drie of vier happies van my Thaikerrie gehad wat ek vir my kuiergaste voorberei het. Ek het darem ’n wafel met roomys later ingekry (daar is mos altyd plek vir nagereg). Saterdagaand is ek ook relatief vroeg bed toe, net om teen 4:00 wakker te word met naarheid. Eventueel het ek weer aan die slaap geraak en het weer laat opgestaan. Eers teen 15:00 het ek honger geraak en gister se Thaikerrie genuttig. Nog die hele dag is ek lighoofdig en moeg, en buiten vir die maaltyd om 15:00 het ek nog net vloeistowwe ingeneem. Ek het geen lus vir kos nie.

Uiteindelik toe ek bed toe wil gaan (lank voor middernag), bel ’n Koreaanse vriend my om te vra of hy kan kom kuier. Dis die vriend wat ek al in vorige skrywe van vertel het wat graag laat in die aande wil kuier. Ek probeer vir hom verduidelik dat ek nie goeie geselskap gaan wees nie (nie dat ons ooit wonderlike geselskap is nie, weens ons beide se onvermoeë om die andereen se taal te praat), omdat ek siek is. Nietemin, hy besluit dit betaam ’n goeie vriend om ’n siek vriend te gaan besoek mits ek “anxious” raak. Glo, as ek hom reg verstaan, raak Koreaners angstig wanneer hulle alleen en siek is en soek dan “companionship”. Nou ja, my ma was self kronies siek toe ek nog baie jonk was, so indien ek siek was het ek nie te veel aandag gekry nie, en moes op ’n vroeë ouderdom na myself omsien. Ek is dis redelik gewoond hoe om na myself te kyk, en bejammer myself nie soos dit stereotipies van mans verwag word nie. Ook dit probeer ek vir my Koreaanse vriend oor die foon verduidelik, maar weet vanaf die staanspoor dat so ’n poging net “lost in translation” gaan wees. Ek was geensins lus vir kuier nie – het juis vroeër die aand vir my broer kortgeknip wat met my wou Internet-chat, en gesê ek voel nie lekker nie en is nie lus vir kommunikeer nie. In die bed, half aan die lees en half aan die slaap, kom die Koreaanse vriend hier aan met ’n bottel tamatiesap, wat volgens hom ’n strelende effek op die ingewande het. Alhoewel ek naar raak vir die idee van kos, is dit nie my spysverteringstelsel wat ontstig is nie, maar dit neem te lank om aan hom te verduidelik. Ek het ’n koors, is lighoofdig en moeg en helderlig gee my ’n kopseer.

Hy kuier seker vir ’n uur of twee (ek het nie tyd gehou nie), met my wat op die sofa lê en my oë beskerm teen selfs die dowwe lig wat ek aan het. Later onthou ek dat ek ginseng in my yskas het en besluit om maar daarmee tee te kook. Dis veronderstel om ’n tonikum te wees, en ek kan nou regtig doen met ’n hupstoot. Terwyl die tee brou op die stoof leer ek Koreaanse woorde soos “gemmer”, “ginseng” en “knoffel”, insluitende ’n vloekwoord of twee. Hoe presies op vloekwoorde opgeëindig het, kan ek in my verlepte toestand nie onthou nie – maar indien jy lus het vir vloek in Koreaans hier is die F-woord: “sieppal!” Gebruik met omsigtugheid; ek neem geen verantwoordelikheid indien jy ’n Koreaner vloek en hy jou in twee skop nie.

Uiteindelik is my Koreaanse vriend huistoe. My kop is steeds dik en omdat ek versigtig is om van my lessenaar af op te staan en terug te waggel bed toe (mits ek flouval), skryf ek maar hierdie verslaggie tot ek genoeg moed bymekaar geskraap het.

No comments: