Wednesday 5 August 2009

Bring-'n-braai en 'n bokkige Suid-Afrikaanse besinning


'n Vriendin (nie die een van die vorige skrywe nie) stuur sopas vir my hierdie foto met die e-posonderwerp: "Sipho is on his way to a bring-en-braai."

Daar is soveel gelaaide elemente aan hierdie e-pos wat tans draaie onder die Suid-Afrikaanse Internetgemeenskap maak. Eerstens al daai Sipho-grappies. Dan is daar die kulturele diskontinuïteit tussen Sipho se Sotho-kultuur (waarin die kuiergaste nooit hulle eie kos bring nie) en die Afrikaner-kultuur wat gerieflikheidsonthalwe nooit (of ten minste nie deesdae) "lewendige" kos vervoer nie -- ons verkies dit geslag en verpak voordat ons dit huistoe, of braai toe, neem.

Maar kom ons vergeet vir 'n oomblik van die tragiese toekoms wat die bokkie by sy eindbestemming gaan ontmoet. Kom ons staan net bietjie terug -- as buitestaanders (selfs buitelanders) wat onbewus is van die sondebok se lot.

Kyk nou mooi na die foto. 'n Jong mannetjie op 'n fiets. Op sy rug abba hy 'n bokkie. Die bokkie loer oor die skouer van sy drywer nuuskurig oor die pad vorentoe, met groot ore (en kleinhorinkies) kierts in die wind. Sekerlik vir die bokkie moet dit die ervaring van 'n lewe wees! Dis nie elke bok wat 'n fietsrit kry nie!

No comments: