Sunday, 26 October 2008

'n Naweekverslag

Nog ’n naweek agter die blad.

Vrydagaand vir Sabbatsluiting het ek na Kangnamgu Cheon gegaan, waar ek met my vorige verblyf in Korea gebly het, om my ou kerkie te besoek. Hulle het ’n spesiale musiek program gehad. ’n Groep genaamd Golden Angels het daar opgetree. Hulle tree reg oor Asië op, en daarom sing hulle baie liedere in Engels. Hulle het ook ’n paar liedjies in Japanees gesing. Die groep bestaan uit Koreane, Mongoliërs en Japanese. Dit was ’n lekker rustige manier om die Sabbat mee te begin.

Young en Angelina aan die kook in my kombuis/sitkamer.

Sabbatoggend het ek saam met die groepie studente van my department, oorwie ek as ’n tipe selgroepleier aangestel, is tydspandeer. Daarna is ek na die International Church. Young het my daar ontmoet en agterna het sy verloofde bygekom. Haar Engelse naam is Angelina. Sy was toevallig ook 'n lid van Golden Angels, maar is tans 'n laerskool onderwyseres. Haar vakgebied is Engels.

Nie een van drie ons was lus vir Udong (’n tipe Koreaanse noedelgereg), wat hulle by die kafeteria bedien op Saterdagmiddae, nie. So toe nooi ek hulle maar na my plek toe. Nie dat ek enige ordentlike bestandele gehad het vir enige spesifieke disse nie. Ons roerbraai toe maar eiers met geblikte tuna, braai tjips en bak nog aartappels in die oond met basiliekruidpesto en knoffel. Hierby saam, geroosterde brood, ongegeurde jogurt en achar. Ek weet, dit klink na ’n verskriklike kombinasie – en eerlik waar dit was! – maar ons het heerlik geëet.

Ek en Young het agterna ’n diep gesprek gehad oor die effek van taal op ’n mens se denke en hoedat verskillende tale (en ook jou woordeskat) jou denke beïnvloed. Asook sy ervaring om Engels te leer (hy sê dit het hom fisies naargemaak), en my ervaring om Koreaans (nie) aan te leer.

Teen namiddag was daar ’n besoekende spreker wat by die universiteit kom gesels het oor Noord-Korea. Dr. Stephen Linton verteenwoordig die Eugene Bell Foundation wat help om siektes, veral tuberkulose, in Noord-Korea te bestry deur medisinale, asook mediese toerusting, te skenk. Die hospitale in Noord-Korea is in ’n haglike toestand. Wanneer jy die fotos sien is dit soos iets uit die Twilight Zone. Die meeste hospitale het nie elektrisiteit nie. Die toerusting is erg verouderd – asof die tyd in 1950 opgehou tel het. Selfs die operasie messe is stomp. Dokters neem die lemme huistoe om dit daar te gaan skerp maak. Daar is nie eens behoorlike narkose nie. Baie van die operasiebeddens is toegerus met gespes om die pasiënte se lede mate vas te maak, sodat hulle nie te erg rondruk weens die pyn tydens operasies nie. Selfs eenvoudige dinge soos watte is daar ’n te kort aan. Op een foto, wys Dr Linton ons hoedat een doktor katoen buite die hospitaal plant sodat hy die katoen kan oes vir watte om in die hospitaal te gebruik. Druptoerusting word van ou glasbottels (soos bierbottels) en pype gemaak.
Iets wat my tot trane gedryf het was die onselfsugtigheid van die dokters in Noord-Korea. Ondanks die haglike omstandighede doen hulle wat hulle kan om die ellende te bestry. Die X-straal masjienerie is so kaplaks, dat dokters hulleself bestraal elke keer wat hulle die pasiënte bestraal. (’n Mens neem X-straalfotos van die borskas om te bepaal of die persoon TB het.) Dr Linton vertel hoedat hy aan die dokters sê dat hierdie langdurige blootstelling aan X-strale hulleself gaan laat siek word. “Ons weet dit,” sê die dokters, “maar ons het die dokterseed afgelê, dat ons ons pasiënte sal help”.

My hart breek vir die arme mense van Noord-Korea.

Saterdagaand het ek gewerk aan die bladuitleg van die akademiese lettere- en taalkunde bladjie waarby ek betrokke is, aan die Noordwes-Universiteit. Die bladjie heet P~YP! en is ’n kwartaalikse publikasie. Dit behoort binne die volgende dag of twee klaar te wees en behoort dan teen die einde van die week gedruk te word. Daar word 1000 kopieë gedruk wat dan hoofsaaklik op die Potchefstroomkampus uitgedeel word. ’n Paar word ook aangestuur na die Mafikeng- en Vaaldriehoekkampusse.

Vandag (Sondag) is ek na Apgujeong. Ek en Lindiwe was na Pizza Hut toe vir middagete. Ons het ook ’n uur of twee daar spandeer en semestertoetsvraestelle nagesien. Ek is nog steeds nie klaar nie. Vanaand het ek ’n uurlank Taekkyeon gaan oefen.

Dit is basies die volsom van my naweek.

O ja, ek het na 'n preek van Morris Venden geluister. Die boodskap was vir my 'n hoogte punt oor die naweek. Ek het ook begin luister na die musiek van Howie Day. Dis goed, maar ek gaan vinnig moeg raak daarvoor.

The photo is this post is not a Creative-Commons image.

No comments: