Ek het vroeër vanweek Antjie Krog se ’n Ander Tongval klaar gelees. Wat ’n goeie boek!
’n Ander Tongval is ’n outobiografiese vertelling van Krog se lewe, maar dit verval nie tot daardie tipiese selfgesentreerdheid wat outobiografieë kenmerk nie. In plaas hiervan kontekstualiseer Krog haar lewe binne verskye gemeenskappe wat van klein na groot uitkring. Krog is nie los van die plaas waar sy groot geword het nie, nie los van Kroonstad waar sy skoolgegaan en ook skoolgehou het nie, nie los van die Vrystaat waar sy skouer teen skouer, swart en wit, gemarch het teen die ou regime nie, nie los van Suid-Afrika se nuwe-wording nie. Nie los van die ander skrywers in Afrika nie. Selfs nie los van haar toekoms as Afrikaan nie of haar voorgeslagte in Nederland nie.
Met die lees van ’n Ander Tongval lees ons nie bloot die storie van een van Suid-Afrika se bekroonste skrywers nie; want ’n skrywer skryf nooit alleen nie en so ontvou die reis om verkenning na die imbongi’s, Suid-Afrika se prysdigters, die storievertellers van die Kalahari, die griots in Timboektoe.
’n Ander Tongval is gelyktydig ’n soeke na persoonlike identiteit van ’n witmens in ’n donker Afrika, maar ook ’n soeke na Suid-Afrika se identiteit na 1994. Wyl Country of My Skull (2002) ’n meer objektiewe kreatiewe verslaggewing was van Suid-Afrika se identiteitsverandering, is ’n Ander Tongval ’n subjektiewe vertelling van Krog se identiteitsverandering en op ’n veeltolkige manier kry sy dit reg om die leser ook te lei deur sy of haar eie vertolking van so ’n identiteitsverandering.
Die boek het gesorg dat ek ’n klompkeer hardop lag op die moltrein sodat die Koreane rondom my alle selfbeheersing moet gebruik om nie te gluur nie. Dis ’n boek met insig, wat jou diep laat dink oor ons land en ons mense. Dis ’n boek wat jou dwing om te vra: waar staan jy?, wie is jou gemeenskappe?, wie is jou mense? Dis ’n boek wat maak dat jy wonder oor jou (en ook ander mense) se toiletmaniere.
No comments:
Post a Comment