God het my vandag berispe. Subtiel soos God se manier is. Altyd respekvol. Dat die Skepper van die heelal ons respekteer, dit gaan ewig my verstand te bowe.
Ek en Young is Nuwon toe om ’n fliek te gaan kyk. Ongelukkig vind ons met ons aankoms dat ons te laat is en dis te lank voordat die volgende fliek begin. Hy moet na ’n afspraak waar sy ouers en sy aanstaande skoonouers trousake gaan bespreek. Ek wil nog Hapkido toe gaan, so die later fliek pas my ook nie. So ons eet maar ietsie. Bokkembab (geroerbraaide rys) vir my en vir nagereg een of ander room en bessie pasterie.
Oppad terug na die moltrein stop ’n ou tannie, geknak onder die jare, ons. Instinktief wil ek wegskram vir die vuil hande. Gelukkig is Young daar om te vertaal. “Die tannie wil jou hand skud”, sê hy. Hand skud? Ek gee maar toe. Toe begin sy vertel dat daar ook uitlanders in haar woonstelblok bly. Sy dink hulle is baie slim en sy wil maar net my hand skud en dankie sê. Dankie vir wat is ek nie seker nie; ek neem maar aan vir die muniskule waarde wat ek toevoeg tot Korea.
Toe ons wegloop buig ek laag voor die tannie, uit respek en skaamte. Young sien onmiddelik iets geestelik aan die situasie en sê grappergewys terwyl ons aanstap, “Miskien was sy ’n engel”. Ek dink nie sy was ’n engel nie, maar God het met my gepraat deur haar. So, in ’n sin was sy tog ’n engel. Die woord engel beteken mos boodskapper.
Die eerste boodskap het ek onmiddelik gehoor. Sanko, jy het die tannie vermy omdat jy gedink het sy is ’n bedelaar. God het nie nodig om meer as dit te sê nie. Ek is skuldig.
Onlangs het ek begin negatief raak omtrent Koreane. Daar is ’n onderliggende, ligte vyandigheid teenoor uitlanders. Ek blaam graag die Amerikaners. Amerikaanse soldate wat hier gesatueer is leef soms wilde lewens hier. En baie van die ander Engelse onderwysers in Korea het ’n slegte raport. ’n Vrotkol suip snags of gebruik dwelms en hang in obskure strate rond. Die Koreane sien hierdie slegte gedrag en stereopeer dan dat alle uitlanders inherent sleg is. Ek het dit begin aanvoel en dieselfde fout begaan. Ek het begin glo dat die meeste Koreane my sien, en op my neer kyk, as net nog een van daardie vuil uitlanders wat Korea kom eksploiteer.
Maar toe kom die tweede boodskap vandag deur daardie ou vroutjie. Dankie. Laat ek jou handskud. Jy is welkom hier in Korea. Ons waardeur jou kennis.
Ek dank God vir hierdie lesse vandag. En ek buig laag voor my Majesteit. Uit respek. En uit skaamte.
No comments:
Post a Comment