Daar is 'n knorrige Koreaanse doktor in die Engelse departement waar ek werk. Die eerste jaar wat ek hier begin werk het, het ek gewoond geraak daaraan dat hy heuwige humeuruitbarstings het tydens departementele vergaderings. Ek is bly om te rapporteer dat hy intussen aansienlik stiller geraak het en hy nogals lanklaas so 'n uitbarsting gehad het. Dis natuurlik ook effe senutergend wat 'n mens kan nie help om te wonder of die spanning intussen ontploffingsdruk opgebou het nie, en die volgende uitbarsting tot waansinnige bezerktheid gaan lei.
In elk geval, die Koreaanse doktor is bot. Hy ignoreer almal en die kere wat hy sowaar met my 'n uitruil van sinne gehad het (ek wil dit nie 'n gesprek noem nie), kan ek letterlik op my vingers tel. Wanneer ons verby mekaar loop of onsself gelyktydig in die sekretaresse se kantoor vind ignoreer hy my eenvoudig soos 'n koning die tuinjonge.
My moeder het vele male aan my 'n staaltjie vertel van my tweede oudste broer wat dit moeilik gehad het onder een onderwyser in hoërskool. Om een of ander rede het die onderwyser net 'n gly gevang in my broer en die lewe vir hom baie ongemaklik gemaak. My moeder se raad aan my broer was om die onderwyser met volhoubare vriendelikheid te behandel. Haar praktiese raad was om die onderwyser altyd en met 'n breë glimlag te groet. Glo het my broer die raad geneem en uit sy pad uit gegaan om dit te doen. Selfs wanneer hy die onderwyser van ver af gesien het, het hy gretig vir hom gewaai en geglimlag. Ons moeder se wysheid het glo vrugte afgewerp, want volgens haar was my broer en die onderwyser later dik vrinne. Ek besluit toe om ook haar raad te volg en begin toe 'n veldtog van vriendelikheid teenoor my knorrige Koreaanse kollega. Elke dag as ek hom sien gee ek hom 'n groot gulle glimlag met 'n gepaardgaande “Good morning,” Good day,” “Good afternoon,” of “Hello” (afwisseling is goed, alvorens dit eentonig raak). Ondanks my hardste pogings het hy my bly ignoreer. Partykeer, as ek hom onkant gevang het, mog hy moontlik 'n “Annyong haseyo” (hello in Koreaans) gemompel het.
Ek was byna gereed om tou op te gooi totdat ek uitvind dat een van my ander nie-Koreaanse kollegas glad nie die stiltebehandeling ontvang nie. Ek gaan steek toe by hierdie kollega op om uit te vind wat hy anders doen. “Nee,” sê die kollega, “wanneer ek hom sien, groet ek hom in Koreaans en gee aan hom 'n klein buigie.” Ek kon dit nie glo nie, die knorrige Koreaanse kollega wil hê ek moet vir hom buig en in Koreaans groet. Ek is toe sommer vies toe ek dit hoor en alles in my skop daarteen om hom die plesier te gee.
Ek is glad nie suinnig met my Koreaanse respek nie. Ek groet in Koreaans met die eervolle buigingtjie aan allerande mense: die tannie by die bakkery, die busdrywer, die mannetjie agter die kaartjietoonbank by die flieks. Hierdie is mense wat laer in die sosiale werksklas is as ek—'n universiteitsdosent—tog gee ek nie om hom hulle met oordrewe respek te behandel nie.
Die eerste ding wat my irriteer van die situasie is die verwagting dat ek hom in Koreaans moet groet. Hierdie is allermins die Engelse departement. Vir watter rede moet ons in 'n ander taal kommunikeer in die Engelse departement? Hy is allermins 'n doktor in Engelse letterkunde en is die taal totaal magtig. Daarbenewens is daar drie ander Koreaanse dosente in ons departement van hoër portuur as hy—die een was 'n akademiese dekaan, die ander eertydse departementshoof van die Joernalistieke department, en die derde is tans die departmentshoof van die Engelse departement—wat my gedurig in Engels groet en geensins van my verwag om voor hulle te buig nie. Ook gee ek nie om om vir hulle die nodige knik van die kom of lyf te gee nie, en doen partykeer so heel natuurlik en gemaklik.
Die blote verwagting van die knorrige Koreaanse kollega dat ek aan hom sulke Koreaanse respek moet wys—respek wat ek met oorgawe aan meeste Koreane wys—maak dat ek dit glad nie vir hom wil wys nie. My respek is iets wat ek vrylik gee; dis nie afdwingbaar nie.
Met na betragting dink ek dat die heuwige rebellie in my nie bydrae tot 'n Christen-karakter nie, en dat ek die geleentheid kan gebruik om nederigheid te beoefen. So ek het intussen begin om hom in Koreaans te groet (in die Engelse departement!) en 'n knik van die kop te gee. Voorwaar het hy intussen begin om my terug te groet in Koreaans (in die Engelse departement!).
Noudat ek hom die respek gee wat hy so graag na smag, word ek nie meer geïgnoreer nie. Dis nie asof hy skielik met my begin klets nie, maar ten minste groet hy my ook nou terug. Maar o, dis moeilik. Ek doen dit met knersende tande!
2 comments:
Is ek reg as ek aanneem die knorrige kollega is ouer as jy, afgesien van julle posisies in die departement? Jy weet mos hoe voel die Koreane oor ouderdom.
In daardie opsig is ek gelukkig. Ek word dikwels in die skool baie respek getoon ivm ander GET's, net omdat ek ouer is.
Ja hy is ouer as ek, maar hy is jonger as die drie ander senior professore, wat geensins sulke verwagtinge van my het nie.
Omdat ek redelik jonk lyk is dit nie altyd 'n goeie ding nie, vind ek veral met my studente. Ek moet altyd 'n punt daarvan maak om duidelik grense te stel.
Post a Comment